MOSSELBAAI NUUS - 'n Item op die mees onlangse raadsvergadering, wat aanbeveel het dat agterstallige skuld weens verkeersoortredings afgeskryf moet word, is deur die DA-koukus terugverwys vir deeglike oorweging.
Die betrokke agterstallige gelde sluit 'n bedrag van R2 095 000 vir provinsiale verkeersoortredings en R3 209 490 vir munisipale verkeersoortredings in.
Boetes ouer as 18 maande sonder dat 'n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik word, en lasbriewe vir inhegtenisneming wat nie binne 24 maande betaal is nie, moet ingevolge GRAP afgeskryf word.
Dringend
Die item is laat in die raadsagenda vir 24 Junie opgeneem, aangesien die administrasie op relevante, eksterne inligting moes wag. Die raad moes dringend voor die einde van die huidige finansiële jaar op 30 Junie, oor die aanbeveling besluit.
Die waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het tydens 'n spesiale raadsvergadering op Woensdag, 30 Junie gesê die DA-koukus se besluit om die item terug te verwys, het raadslede juis die geleentheid gebied om deegliker oor die afskryf al dan nie van die agterstallige skulde te besin.
Dit sal hulle in staat stel om hul oorsigrol omvattend te vervul.
Hoewel daar administratiewe prosesse soos die algemeen erkende rekeningkundige praktyke (GRAP) bestaan, bly daar kommer oor die invordering van agterstallige skuld by motoriste van buite Mosselbaai. Die meeste van die oortredings wat tot agterstallige boetes gelei het, is deur motoriste van buite Mosselbaai. Kotzé het gesê daar moet voortaan meer indringend gelet word om motoriste van buite die dorp meer verantwoordbaar te hou, soortgelyk aan die plaaslike inwoners wat getrou hul verpligtinge nakom.
Hy het ook plaaslike inwoners bedank wat getrou hul boetes betaal ondanks die moeilike ekonomiese omstandighede.
Tot voordeel
Die Mosselbaai-munisipaliteit is voortdurend besig om die agterstallige verkeersboetes in te vorder en het onlangs tot 40% van die uitstaande boetes ingevorder, vergeleke die ongeveer 12% vier jaar gelede.
"Die verskuldigde gelde kan tot groot voordeel gebruik word vir meer effektiewe dienslewering. Juis daarom is die aanbeveling om oninbare skulde af te skryf, deeglik oorweeg," aldus Kotzé.
Die nuwe wet op administratiewe beoordeling van verkeersoortredings (AARTO) sal waarskynlik binnekort ingestel word en kan die dilemma van oninvorderbare skuld weens verkeersoortredings grootliks ondervang.
Kotzé het bygevoeg dat die DA-beheerde Mosselbaai munisipale raad sterk fokus op dienslewering en van mening is dat dit "noodsaaklik is om eerlik en deursigtig op te tree in die beste belang van al ons inwoners, veral wanneer aanbevelings in die raad oorweeg word".
"Raadsvergaderings moenie die bakermat van politieke opportunisme en kleinlike politiekery word ter wille van partypolitieke voordeel in die aanloop tot die plaaslike verkiesing nie, want dit benadeel al die inwoners van die groter Mosselbaai."
Die raad het eenstemmig die aanbeveling aanvaar dat die oninvorderbare agterstallige skuld afgeskryf word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'