MOSSELBAAI NUUS - Wie’t gesê dis net oumas en seniors wat hekel en brei?
Meer as 100 breiers en hekelaars het op Saterdag 13 Junie, Wêreldwye Openbare Breidag, hul naalde en penne by Misty Valley in Mosselbaai ingespan.
Suzy Doubell van die Wolslim Henne/Haan se brei- en hekelgroep het dié geleentheid gereël.
Een van die besonderse kunswerke wat daardie dag aan gewerk is, was ’n gehekelde storiekombers met nie minder as nege feëverhale daarop.
Sneeuwitjie en haar sewe dwergies, Ali Baba en die 40 diewe en die kindertjies van die Rottevanger van Hamelin word onder andere uitgebeeld. Beslis ’n kleinood vir die geslagte!
Maar wie het gesê hekel en brei is net vir vroue?
Twee mans wat hul vaardigheid aan die dag kom lê het, is al baie jare met dié stokperdjie doenig. Dit het volgens albei ’n besonderse kalmerende effek op hulle.
Nog ’n man wat al so 15 jaar hekel is Andries du Pisani van Hartenbos. Hier pryk hy in ’n baadjie wat hy binne twee weke gehekel het. Foto: Denise Lloyd
Jan le Roux van Island View hekel al van 1961 af. Hy het op die plaas Suurland in die Williston-distrik grootgeword, waar daar geen elektrisiteit was nie. Hy en sy ma, Marie, het saans by die lamplig voor die kaggelstoof gehekel.
Vandag hekel hy en sy vriendin, Hantie van Zyl, saam.
“Die TV praat en ons kyk hoe die ander een hekel, en as ons moeg word, gaan maak Hantie vir ons koffie,” vertel hy.
Andries du Pisani van Hartenbos het so 15 jaar gelede begin hekel. Hy het verskeie nuwe stokperdjies probeer, maar hekel het gewen. Du Pisani het al binne twee weke vir homself ’n baadjie gehekel.
Jan le Roux van Hartenbos hekel al van 1961. Dit bied hom hom rustigheid, sê hy. Foto: Denise Lloyd
Volgens Doubell het die Wolslim Henne/Haan oorspronklik met sewe belangstellendes begin. Die groep bepaal waar daar behoeftes in die gemeenskap is en waar hulp dringend benodig word.
Tans is hulle meer as 50 lede. Hulle kom Woensdae bymekaar om projekte te bespreek en patrone te deel.
Een van die organisasies wat gereeld van die groep se komberse, musse, serpe en ander produkte ontvang is die Choc Child Cancer Foundation en die Sju-Sju Liefdegroep in Danabaai.
Sju-Sju maak geskenkpakkies op vir veral ontwortelde kinders. Vier seuntjies is onlangs uit hul gesin verwyder, en bederfpakkies word binnekort aan hulle oorhandig.
Vir meer inligting oor die Wolslim Henne/Haan en wanneer hul volgende bymekaarkomsessie sal plaasvind, kan Doubell by 083 262 8084 geskakel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’