Update
MOSSELBAAI NUUS - Nadat President Cyril Ramaphosa die aankondiging gemaak het dat haweloses te midde van die 21 dae van inperking versorg moet word, het Mosselbaaiers nie geskroom om diegene wat op straat leef, in te neem nie.
'n Totaal van 37 haweloses, insluitend ses paartjies, word sedert Vrydagaand, 27 Maart in twee rugsakreisfasiliteite (backpackers) tydelike huisvesting aangebied.
Hoewel daar steeds haweloses is wat in die dorp ronddwaal sê die bestuurder van die twee rugsakreisfasiliteite, Johan Binneman, dat Shark Shack en Bay Vista tot hulle maksimum kapasiteit vol is en dat dit 'n groot taak is om aan die haweloses te voorsien.
Volgens Binneman was hy skepties oor die nuwe intwoners, maar mettertyd het hy die mense leer ken en probeer tans om hulle op te hef. "Hulle het 'n baie beter gesindheid as toe hulle aanvanklik ingekom het en geeneen mag uitgaan nie," sê Binneman.
Geen dwelms of drank word toegelaat en Binneman sê dat hy diegene wat kanse vat dadelik uit sal sit.
Wat kos en ander benodigdhede betref sê hy dat hulle reeds donasies ontvang het, maar dat hulle veral 'n groot behoefte aan groente, vleis en pasta het.
"Baie van die mense het op straat geleef en die klere wat hulle het is fodde". Toiletbenodigdhede en klere is ook van die items wat dringend benodig word.
"Ons het 'n haarknipper gekry en is besig om die manne netjies te maak. As ons hulle kan skoon kry en ordentlik kan aantrek, dan maak ons al klaar van hulle beter mense."
Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat reeds bydraes gemaak het.
'n Paar van die nuwe inwoners by Shark Shack.
Die hare word gesny en die manne word mooi gemaak. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikel: Mosselbaai se haweloses veilig
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'