MOSSELBAAI NUUS - Harry, ’n kat wat sedert April vermis word, is uiteindelik gevind. Gelukkig en gesond is Harry op Sondag, 13 Oktober, met sy eienaar, Juanita Terblanche, herenig.
Die kat het vier jaar gelede vir die eerste keer na die Terblanche familie gekom toe hulle hom aangeneem het van 'n vriend, wat verhuis het.
Juanita het verskeie plasings op Facebook gemaak op soek na Harry. Sy en haar gesin het vermoed Harry het die huis verlaat weens die voortdurende konstruksie in die pad waar die gesin woon.
Harry het liefde en sorg by Karel en Yvonne Vlok gevind toe hulle een van hul ander katte veearts toe geneem het. Gean Macleod van Feral Cat Assistance, 'n NWO wat rondloperkatte voer, steriliseer en red, het by die veearts wat sy besoek gehoor van 'n egpaar wat 'n rondloperkat by hul deur gehad het. Gean het hulle gekontak en gesê dit kan Harry wees.
Juanita, wat van Mosselbaai is, sê sy en haar gesin het aand na aand langs dieselfde pad gestap waar Harry gevind is, geroep en na hom gesoek. "Vir my was die ergste deel om nie te weet nie - om nie te weet of hy lewe nie, het hy geëet, is hy geliefd?," vertel Juanita.
Harry het redelik naby aan sy oorspronklike familie gewoon - net twee straatblokke verder.
Groot katliefhebbers, Karel en Yvonne het Harry ingeneem. Hy is tans nog by hulle en volgens Juanita lyk hy gelukkig, gesond en is hy "net Harry."
Die Vlok-egpaar het hom herdoop na Amadeus - so nou sal hy voortaan as Harry Amadeus bekend staan.
Karel en Yvonne het saam met Harry by Juanita se huis aangekom om te kyk of hy uitgeken kan word. Hulle het sleg gevoel dat hy iemand se vermiste troeteldier kan wees.
Die egpaar het selfs notas op Harry se kraag gesit in die hoop dat indien hy na sy oorspronklike eienaar sou teruggaan, hulle gekontak kon word.
Maar dié notas het altyd ontbreek as Karel en Yvonne hom weer sien, en daarom het hulle onbeantwoord gegaan.
"Ek sou Harry graag wou terugneem, maar omdat hy homself reeds 'herhuis', gesond en gelukkig is - wil ek hom nie wegruk van 'n familie wat goed na hom omsien nie," sê Juanita.
Al is Juanita hartseer sonder Harry, weet sy waar hy is en beplan sy om hom gereeld te besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’