MOSSELBAAI NUUS - Meneer Dawid Caincross Groenewald, die eerste skoolhoof van Hoërskool Sao Bras, het verlede Sondag, 27 Januarie in sy slaap op die rype ouderdom van 91 afgesterf. Hy was 'n man wat sy pad stil gestap het en so het hy ook sag heengegaan.
Hy slaag sy Senior Sertifikaat-eksamen in 1945 aan die Livingstone High School, Kaapstad en verwerf sy BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad. Hier ontvang hy ook sy Onderwysdiploma.
In 1960 word hy prinsipaal van die middelbare skool Swartberg in Caledon. Die Evangelies Lutherse Kerk bied hom ‘n studiejaar aan by die Universiteit van Berlyn waar hy aan die teologiese fakulteit studeer en ook privaat orrellesse aangebied word.
Hy keer terug na sy geboortedorp in 1964 om as skoolhoof die middelbare skool Sao Bras te begin om hoërskoolgeleenthede vir die gemeenskap te skep. Die enigste hoërskool in Mosselbaai was toe nie vir bruin leerders beskore nie. Ouers, wat dit kon bekostig, moes hul kinders vir verdere studies na naburige hoërskole in ander plekke stuur.
Vanuit die beskeie houtgeboutjie, Bokmakierie, groei die skoolgebou onder Groenewald se bekwame hande en uitmuntende leierskap tot 'n hoërskool met ‘n skoolsaal, sportveld en skoolkoshuis.
Meneer Groenewald tree uit diens in 1987 nadat hy 'n hele gemeenskap deur sy bydrae na nuwe hoogtes opgehef het. Hy sal altyd met groot respek onthou word vir sy goeie voorbeeld as prinsipaal, vir sy medemenslikheid en sy empatie. Uit die mond van een van sy leerkragte: "As die hoof wat altyd die kinders se part gevat het."
Toe sy vrou Winnie hom ontval, het hy die laaste jare van sy lewe by sy oudste dogter, Erika in Saldanhabaai gewoon. Dis hier, waar hy in die stilte van die Weskus, op 90-jarige ouderdom, sy boek Die Weerklank van Martin Luther in 2017 die lig laat sien het. Hierin vertaal hy die teologie van dié kerkhervormer en sy bekende 95 stellinge uit Duits in Afrikaans. Hy was immers ook Sao Bras se Duitse onderwyser.
Hy word oorleef deur sy vier kinders, nege kleinkinders, twee agterkleinkinders, een broer en twee susters.
"Stil Mosselbaai…daar gaan 'n man verby."
Sy begrafnis vind môre, Saterdag 2 Februarie uit die Evangelies Lutherse Kerk in Mosselbaai plaas. Besigtiging is om 08:30 en die diens in die kerk om 09:00.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'