GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Peter ‘Pietman’ Davids (69), ’n welbekende gesig op Groot-Brakrivier, is op Sondag, 15 Junie, oorlede.
Davids, of oom Pietman soos hy algemeen bekendgestaan het, se roudiens vind vanaand om 19:00 by die VGK Kerk in Watsonialaan, Groot Brak plaas. Sy begrafnis sal Sondag, 22 Junie, om 14:00 by dieselfde kerk plaasvind.
Davids was die leier van die Groot Brak Brass Band.
Die orkes sal Sondag om 13:00 in Gelderbloemstraat bymekaarkom van waar hulle begeleiding tot by die kerk sal verskaf.
Sers. Lauriane Botha sê sy het tot onlangs nog met Davids saamgewerk vir die afrigting van leerders van Groot-Brakrivier Primêr. Dié leerders vorm deel van die distrik se marsjeer/dril-orkes.
“Hy was ’n groot orkes ou gewees. Hy het al baie kinders afgerig en was ’n groot staatmaker vir Groot Brak.”
Davids het self gedurende 2020 op die Groot Brak Brass Band se Facebook-blad uitgebrei oor sy geskiedenis met instrumente en betrokkenheid by die jeug.
“Ek is alreeds vanaf 8 jarige ouderdom deel van VGK Toekoms Brigade. My begeerte was om die leier te word van hierdie organisasie. Ek was gekies as luitenant en later as leier en kaptein van die VGK Brigade.
Ek speel die alto saksofoon as hoofinstrument maar speel ook heelwat ander instrumente soos dromme. Ek is betrokke by die opleiding van kinders wat instrumente wil leer speel. Hierdie projek het ’n positiewe invloed en so kan ons die kinders van die strate af hou.
Ons gebruik ook hierdie byeenkomste om die woord van God deur musiek te verkondig. Dit is opsigself ook ’n seëning en ’n eer.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’