MOSSELBAAI NUUS - Devan Williams (7) wat op Woensdag, 12 Junie in Louis Fourieweg deur 'n voertuig raakgery is terwyl hy vanaf Laerskool Hartenbos na sy huis in Sonskynvallei gestap het, is in 'n stabiele toestand in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.
Devan se ma, Evelyn Williams (40) is by hom in die hospitaal en het Maandag aan die Home Ads News gesê dat dit onder omstandighede goed gaan met hom.
"Hy het Sondagaand, 23 Junie begin wakker word. Hy praat nog nie maar die dokters sal van vandag af begin kyk dat hy behoorlik bykom."
Devan moes 'n operasie aan sy been ondergaan en het ook behandeling gekry vir kopbeserings wat hy tydens die voorval opgedoen het.
Devan het in die rigting van Sonskynvallei gestap toe 'n Huyndai H100-trokkie wat in die rigting van Oudtshoorn na Hartenbos onderweg was, hom getref het. Volgens die Da Gamaskop-polisie het Devan aan die linkerkant van die pad gestap en na bewering voor die voertuig ingehardloop.
Devan maak gewoonlik van 'n bussie wat hom skool toe en terug vervoer gebruik. Sy ma sê sy weet nie hoekom hy op die betrokke dag nie van die bussie gebruik gemaak het nie. Die polisie ondersoek 'n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Lees vorige artikels hier:
Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'