Video
MOSSELBAAI NUUS AND VIDEO'S - Die kwynende ekonomie het tot gevolg dat al hoe meer mense hulle werk verloor en mettertyd op straat beland. En as 'n mens eers daar is, is dit gewoonlik 'n lang en bitter pad om weer daaruit te kom, indien ooit.
Die African Christian Democratic Party (ACDP) in die Mosselbaai-gebied het 'n verskeidenheid uitreikaksies om te help om haweloses se waardigheid te herstel.
Jurgin Schuhardt, die party se voorsitter in Wyk 8, behartig saam met ander belangegroepe 'n Good Food Programme wat ongeveer 40 mense van Maandag tot Vrydag 'n voedsame bord kos gee. Die kos word op die parkeerarea agter Die Haven uitgedeel.
Volgens Jeanette Gouws, ACDP leier in Mosselbaai, probeer hulle in die behoeftes van haweloses voorsien om sodoende hul waardigheid te herstel, hulle te bemoedig en hoop te gee waar dit nie voorheen bestaan het nie.
Raoul Garcia het in Mei vanjaar na Mosselbaai gekom nadat hy vir jare in Kaapstad gebly het. Hy werk tans as 'n sekuriteitswag by Santos. Vir hom is dit belangrik dat sy vriende en familie sien dat hy wel probeer om selfonderhoudend te wees.
Quintus Cloete is 'n boorling van Mosselbaai en het 'n aantal jare gelede van Welkom hierheen gekom, omdat sy pa ook van hier is. Hy is opgelei as 'n paramedikus, maar sê hy het nie die gevorderde kursusse voltooi wat nou in aanvraag is nie. Hy doen stukwerk en kom net vinnig iets eet omdat sy inkomste maar skraps is. Sy droom is om 'n standvastige werk en 'n veilige blyplek te hê.
Tydens die middagete wat ACDP uitgedeel het, het Jaco Slippers die blye nuus kom deel dat hy werk gekry het. Hy het agt jaar gelede alles verloor en het na Mosselbaai gekom om naby sy kinders te wees wat hy 12 jaar gelede gesien het. Jaco kon nie sy blydskap beteuel nie en hy sê al begin hy nou weer onder, is hy gelukkiger as ooit.
Nadja Monson, oorspronklik van Switserland maak en bedien kos vanaf Dinsdae tot Vrydae.
Sy en haar man het 'n gastehuis en sy sê dat in plaas van om kos hier en daar uit te deel, is dit beter vir haar om seker te maak dat die mense wat honger is, ten minste een goeie bord kos 'n dag kry.
VIDEO - Jaco Slippers het vir 8 jaar baie swaar gekry. Die dag van ons besoek het hy so pas werk gekry.
VIDEO - Raoul Garcia appreciates the efforts by ACDP and other groups who assist the people on the streets.
VIDEO - Quintus Cloete se droom is 'n vaste werk en 'n veilige blyplek.
VIDEO - Nadja Monson and Jurgin Schuhardt gesels met Mossel Bay Advertiser terwyl hulle kos uitdeel:
Jurgin Schuhardt en Jaco Slippers in 'n vrolike luim nadat Jaco so pas gehoor het dat hy 'n werk gekry het.
Jurgin Schuhardt, ACDP voorsitter van Wyk 8, neem 'n register van die persone wat aanmeld vir 'n bord kos.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'