MOSSELBAAI NUUS - Glimbaadjies is onlangs aan leerders van Laerskool Hartenbos wat vanaf Sonskynvallei skool toe en terug moet stap, uitgedeel.
Hierdie inisiatief is deur Gerhard le Roux, wat die facebookblad Mosselbaai op sy HEEL BESTE!, bedryf, van stapel gestuur.
Dit volg nadat 'n leerder, Devan Williams (7) op Woensdag, 12 Junie raakgery is toe hy vanaf Laerskool Hartenbos na sy huis in Sonskynvallei gestap het.
Williams is steeds in 'n stabiele toestand in die hospitaal en sal ook in 'n rehabilitasiesentrum behandeling ontvang.
Le Roux bedank Nieta Neethling, 'n inwoner van Mosselbaai wat hom oor die voorval ingelig het, asook Elize Meyer en Emile Meyer van Meyer Towing wat 40 van die glimbaadjies geskenk het.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement verskaf slegs vervoer aan leerders wat 5 km en verder skool toe moet stap.
Mosselbaai verkeer se Maryke Kruger Zeeman en Daantjie Kat saam met die leerders wat die glimbaadjies ontvang het, asook die skoolhoof, mnr Werner van Huyssteen.
Daantjie Kat het die leerders van Laerskool Hartenbos toegespreek oor padveiligheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'