Update
MOSSELBAAI NUUS - In 'n vlaag van gewapende rooftogte het die poskantoor op Groot-Brakrivier eergisteroggend ook deurgeloop toe die sekuriteitswag om 07:00 ná bewering deur drie gewapende mans oorval en gedwing is om die kluis oop te sluit.
Hy is daarna vasgebind waarna die verdagtes met 'n onbekende bedrag met 'n wit VW Polo op die vlug geslaan het.
Dit bring die aantal gewapende rooftogte die afgelope week in die Groot Brak-omgewing op vier te staan. Met die ter perse gaan was niemand nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.
Tydens die eerste voorval is 'n 50-jarige man en sy vrou op Donderdag, 6 April, om ongeveer 00:30 op die gasteplaas, Buff and Fellow Eco Game Farm, deur minstens vyf gewapende rowers aangehou. Die verdagtes het met onder meer juwele gevlug.
Die Mossel Bay Advertiser het die bestuur van die gasteplaas genader maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.
Slegs twee dae later, op Saterdag 8 April, is 'n werknemer en sy meisie van die Dunkes Organic Equestrian Estate in Dwarsweg om ongeveer 21:00 ook deur vyf gewapende mans aangehou.
Sersant Lauriane Botha, polisiewoord-voerder, sê die slagoffers het buite 'n woning gesit toe hulle deur die verdagtes oorval is. Juwele en selfone is geëis voor hulle te voet gevlug het.
Intussen het die bestuurder van die landgoed, Natalie Gunther, aan die Advertiser gesê hulle het hul sekuriteit sedert die voorval drasties opgeskerp.
Die verdagtes het vermoedelik deur 'n draadheining teen die pad geklim om toegang tot die landgoed te kry.
Traumaberaders
"Ons is dankbaar niemand is tydens die voorval beseer nie. Ons het net lof vir die Groot Brak-polisiebeamptes, asook die Outeniqualand Plaaswag. Die plaaswag was dadelik op die toneel en het met hommeltuie na die verdagtes gesoek en die polisie het uitstekende diens gelewer en dadelik traumaberaders na die toneel ontbied," het Gunther gesê.
Intussen is die omstandighede van 'n huisroof op Sondag, 9 April, in Reebok steeds onduidelik. Daar is ná bewering op die eienaar van die woning geskiet. Volgens Botha beweer die eienaar dat hy tydens beurtkrag geslaap waarna sy hond se geblaf hom om ongeveer 00:40 wakker gemaak het.
'n Verdagte het ná wat verneem word, toegang tot die woning deur 'n venster van die motorhuis verkry.
Botha sê: "Die verdagte het na bewering met 'n flitslig in die rigting van die eienaar geflits en 'n skoot is afgevuur. Nog 'n skoot is afgevuur waarna die verdagte deur 'n venster gevlug het."
Vorige artikels:
- Poskantoor op Groot Brak beroof
- Two robberies in Great Brak area
- Help police find robbers
- Gasteplaas geteiken in gewapende roof
Die vermoede bestaan dat verdagtes toegang tot die Dunkes Organic Equestrian Estate deur hierdie draadheining verkry het.
Die woning waar 'n werknemer van 'n landgoed en sy meisie deur gewapende rowers aangehou is. bo: Die vermoede bestaan dat verdagtes toegang tot die Dunkes Organic Equestrian Estate deur hierdie draadheining verkry het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’