MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers is gewoond aan baie dinge op die strand, maar mak makoue in 'n rotspoeletjie is nie een van hulle nie.
As jy nou wil praat van 'n ander dam se ganse (eende), is dit Peanut en Coconut!
Dié twee makoue het onlangs die oog van strandgangers getref toe hulle deur hul eienaar, Juelles Eloff (17), strand toe geneem is.
Juelles sê die tweetjies is maats, wat sy in Desember by 'n vriend van haar gekry het.
"Ons het hulle altyd strand toe geneem as kleintjies en dit het goed gegaan. My vriende Nico Pienaar en Areej Weimers is gewoonlik saam met my. Die makoue volg ons en is absoluut gaande oor swem - hulle waggel gewoonlik reguit water toe."
Sodra die somer aanbreek, sal dié koddige spannetjie meer gereeld deur strandgangers gesien word.
Sommer van kleinsaf al tuis by die see.
"Ons neem hulle na strande met rotspoele omdat die golwe bietjie rof sal wees. Wanneer dit laagwater is, is Beacon Point die beste, maar met hooggety stap ons om tot by Die Punt naby Delfino's," het Juelles gesê.
Juelles Eloff en Areej Weimers met Peanut en Coconut op die strand.
Wanneer mense dié prentjie aanskou, is die eerste reaksie gewoonlik skok, vertel sy.
"Almal is egter mal daaroor. Hulle stop ons om vrae te vra en neem dan foto's en video's vir hul families. Ons het al baie mense gekry wat hulle optel om foto's te neem."
Peanut en Coconut verken die rotspoele.
Peanut en Coconut se uitstappies is egter nie net beperk tot die strand nie. Juelles sê hulle gaan tot saam wanneer daar gekamp word. "Hulle gaan oral saam met ons!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’