Februarie is Gesondheidsmaand in die SAPD en lede van die KwaNonqaba Polisiestasie het 'n baie leersame voorligting onder leiding van kol Huisamen en Ao Marsh Levendal bygewoon. Hulle is oor goeie eetgewoontes en die effek van korrekte voeding en oefening op hul dagtaak bedag gemaak.
Die KwaNonqaba SAPD Kommunikasiebeampte, sers Kappie Kapp, berig die lede het die voorligting veral interessant gevind omdat dit op hul werkslewe van toepassing gemaak is.
"Inligting oor die wyse waarop 'n gesonde lewenstyl, gesonde dieet en oefening werkstres beïnvloed, was insiggewend. Dis ook op die proef gestel met die volgende dag se fiksheidstoetse," het sers Kapp gesê.
Die volgende dag het lede aan die gereguleerde fiksheidstoetse wat gereeld afgeneem word, deelgeneem. Hierdie toetsing het onder leiding van Ao Wynand van der Mescht, die gebiedsone se fiksheidskoördineerder, plaasgevind en al die KwaNonqaba lede het hul evaluering geslaag.

Die elemente van 'n gesonde lewenstyl, wat korrekte eetgewoontes en oefening insluit, is deur kol Huisamen en Ao Marsh Levendal met lede van twee skofte by KwaNonqaba polisiestasie behandel. Foto:Sers Kappie Kapp
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'