Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesin is op Dinsdag, 5 Junie dakloos gelaat nadat 'n brand in hul informele woning op Wolwedans, Groot-Brakrivier ontstaan het. Mosselbaai brand- en rampbestuurpersoneel het om 09:00 na die woonbuurt gehaas en die brand geblus. Nog 'n woning waarin 'n man alleen gebly het, was ook in vlamme gehul.
'n Verslae Lungisani Masango (28) het sprakeloos toegekyk hoe brandbestryders die vlamme blus waarna net puin oorgebly het.
"Ek het Saterdag 'n splinternuwe dubbelbed en televisie vir my en my vrou gekoop. Ons identiteitsdokumente en alles wat ons besit het was in die huis. Ek kan nou net sowel doodgaan," het 'n hartseer Masango aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Masango werk by die Watson-skoenfabriek op Groot Brak en sê sy vrou werk by die stop-en-ry- afdeling op die R102-pad. "Alles was nog reg toe ons die huis vroegoggend verlaat het. Nou het ons net die klere aan ons lywe oor."
Masango het op die toneel met 'n onbekende vrou gesels en bespiegel of die brand nie weens brandstigting was nie.
Boonop sê Masango sy kind word op Saterdag, 9 Junie een jaar oud en dat hy nie vir sy kind iets sal kan koop vir sy verjaarsdag nie.
'n Gesin is op Dinsdag, 5 Junie dakloos gelaat nadat 'n brand in hul informele woning op Wolwedans,
Op 'n vraag oor waar Masango en sy gesin gaan woon, het hy gesê hy weet nie. Die oorsaak van die brand word ondersoek.
Lees 'n vorige artikel: Fire in Wolwedans-area burns structure
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'