MOSSELBAAI NUUS - Daar steek geen waarheid in gerugte dat kiesers wat reeds oor die nuwe kaartformaat identiteitsdokumente beskik, van voor af moet registreer as kiesers nie.
Gerugte wat tans die ronde op sosiale media doen is benavraag. Die politieke hoof vir die Mosselbaai DA-kiesafdeling, Jaco Londt sê kiesers se identiteitsnommers verander nie, gevolglik verval hul registrasie as kiesers op die kiesersrol nie wanneer die nuwe kaartformaat ID uitgereik word nie.
"Daar word wel 'n beroep op alle kiesers gedoen om hul besonderhede op die kiesersrol te gaan verifieer," versoek Londt. Kantore van Binnelandse Sake by die Thusongsentrum in Adriaansrylaan, Aslapark is ook tot 17:00 vandag oop om inwoners behulpsaam te wees.
Stemlokale in al 14 wyke in die groter Mosselbaai is tot 17:00 oop vir registrasie van nuwe kiesers en vir bestaande kiesers om hul besonderhede na te gaan.
Hoewel kiesers aanvanklik Saterdagoggend weens 'n vroegoggendreëntjie stemlokale nie so fluks besoek het nie, het verteenwoordigers vandag hul tevredenheid met die opkoms tot nog toe bevestig.
Daar is verskeie registrasiepunte in Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutse Mosselbaai, Tuinroete nuus'