Update
MOSSELBAAI NUUS - Werknemers van SSK Agriland op Mosselbaai het Dinsdag, 18 Januarie hulle werksdag op 'n hartseernoot afgesluit toe hulle van wyle Hencor Combrink, die algemene bestuurder afskeid geneem het.
Combrink (35) is verlede Woensdag, 12 Januarie in 'n motorfietsongeluk oorlede. Hy, sy vrou Maryke en hulle 20 maande oue seun het ten tye van sy afsterwe, slegs agt maande op Mosselbaai gewoon.
Die voorval waartydens Combrink verongeluk het, het omstreeks 18:30 in Georgeweg gebeur.
Kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer het bevestig dat die oorsaak van die ongeluk steeds ondersoek word.
Volgens Koekemoer blyk dit asof Combrink beheer oor sy motorfiets verloor het in die draai tussen die polisiestasie en munisipale kantoor waarna hy teen versperrings, wat groot klippe en 'n baksteenmuur insluit, links van die pad gebots het.
LEES MEER: Takbestuurder se dood ruk kollegas
Combrink was klaarblyklik onderweg in die rigting van Louis Fourieweg. Na bewering is die klippe deur inwoners van 'n nabygeleë woonstelblok daar neergesit met die oog daarop om spoedvrate se vaart te stuit.
Verskeie opmerkings op die Mossel Bay Advertiser se sosiale mediablad wat na afloop van die botsing gemaak is, dui daarop dat dié stukkie pad 'n kwelpunt is veral wat oorskryding van die spoedgrens betref.
"'n Blou Ford Ranger-bakkie was ook naby die ongelukstoneel. Die voertuig se band het gebars nadat dit 'n groot klip wat in die pad beland het ná die motorfietsryer se botsing, getref het," het Koekemoer verduidelik.
'n Saak van strafbare manslag word deur die Mosselbaai-polisie ondersoek.
Die Advertiser het met Combrink se vrou, Maryke kontak gemaak, maar sy het nie kans gesien om die media te woord te staan nie.
Sy het wel by navraag berig dat haar oorlede man 'n groot passie vir motorfietse gehad het en dit baie geniet het om te ry.
Combrink is gister, 20 Januarie vanuit die Vida Nova-gemeente begrawe.
Die motorfiets het ook teen van die groot klippe voor hierdie woonstelgebou gebots.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'