MOSSELBAAI NUUS - Bekommerde lede van die gemeenskappe van Highway en Civic Park het Sondagaand, 6 Oktober opnuut hulle misnoeë oor die misdaadsituasie in hulle woongebiede uitgespreek tydens 'n vergadering by 'n kleuterskool in Mooneystraat.
Die groep wat byeen was, grotendeels bestaande uit vroue, het op 24 September hulle eerste vergadering gehou waartydens die optrede van 'n toegewyde buurtwag bespreek is.
Die toename in rooftogte en aanrandings was veral van die sake wat inwoners warm onder die kraag gehad het.
'n Opvolgvergadering is weer op 27 September gehou. Intussen, is daar voetpatrollies ook in die woongebiede onderneem, waartydens verskeie suksesse behaal is toe daar op etlike gevaarlike wapens beslag gelê is. Die wapens is intussen by die KwaNonqaba-polisie ingehandig.
Ontsteltenis
Sondagaand was die ontsteltenis tasbaar ná die moord op 'n 17-jarige meisie, Michaela Booysen wat aan baie van dié teenwoordig bekend was. Sy is in die vroeë oggendure van 6 Oktober in Dywilistraat tydens 'n rooftog vermoor.
William Sam, wat die vergadering gelei het het verwys na oproerigheid veroorsaak deur 'n handjievol boosdoeners gedurende die naweek wat amok in die woongebied veroorsaak het.
Hy het 'n beroep op die gemeenskap, veral op mans gedoen om hulle volwaardige plek in die gemeenskap vol te staan en om hulle gesinne, asook ander vroue en kinders te help beskerm teen misdadige element.
"Mense kan nie só vermoor word nie. Nie eens diere word so doodgemaak nie. Ons kan nie langer gevange gehou word in ons eie huise nie."
Verskeie munisipale raadslede wat die vergadering bygewoon het, het beklemtoon dat hulle slegs teenwoordig is uit kommer oor die gemeenskappe in hulle wyke.
Raadslid Niklaas Booisen het hom sterk uitgespreek oor die misdaadsituasie. "Nóg 'n weerlose vrou is vermoor. Ons gaan nie langer hande gevou sit nie. Skollies neem kennis - ons is dik hiervoor en ons kom vir julle." Hy het die gemeenskap aangemoedig dat hulle "straat vir straat, huis vir huis" woongebiede moet help beveilig.
Hy het die afwesigheid van die polisie tydens die vergadering betreur. "Ons sal die oë en die ore wees vir die polisie, maar ons moet saam werk." Raadslid Venolea Fortuin het 'n pleidooi gelewer dat die bekommerde gemeenskap hande vat met soveel rolspelers moontlik om misdaad aan te spreek. "Ek is hier sonder titels, want ek is 'n vrou en baie bekommerd oor die situasie hier by ons en in ons land." Sy het die gemeenskap gemaan tot groter samehorigheid. "Ons lewe in 'n kritieke tydperk, vat hande met relevante rolspelers. Haak in bymekaar oor alle grense heen."
"Ek voel vanaand Barracudastraat se mense se pyn," het raadslid Rosina Ruiters gesê. "Ek ken Michaela van sy 'n kleine meisie is. Hoe sou sy kon terugveg? Dis enige mens se grondwetlike reg om vrylik rond te beweeg. Dit is haar ontneem, ongeag hoe laat sy in die straat was.
"Ons kan nie langer toelaat dat dit van ons weggeneem word deur skollies nie." Sy het vroue gemaan om hulle seuns en mans tot orde te roep.
Polisie
Sersant Kappie Kapp, woordvoerder van die KwaNonqaba-polisie het by navraag gesê dat die buurtwag van groot waarde vir die polisie is. "Dis 'n bewese feit dat buurtwagbetrokkenheid misdaad 'n nekslag toedien.
"Daar is verskeie suksesse teen misdaad behaal, danksy die buurtwag se samewerking." Hy het die gemeenskap aangemoedig om by die amptelike gemeenskapsveiligheidstrukture in te skakel ten einde selfs meer effektief te kan werk. Wat betref die polisie se afwesigheid by die vergaderings tot dusver, het hy gesê dat duidelike en ope kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap van kardinale belang is. "Die polisie neem die saak baie ernstig op."
William Sam het die vergadering in die Civic Park-kleuterskool gelei. Hy het die vroue wat betrokke by buurtwagpatrollies is geloof vir hulle werk.
Raadslid Rosina Ruiters.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'