Update
MOSSELBAAI NUUS - Ná 65 besware ontvang is, is daar besluit om nie die omheining van ’n gedeelte van die Bayside-sentrum se parkering toe te laat nie.
Dié besluit is aan die einde van Mei tydens die Mosselbaai-munisipaliteit se operaadsvergadering geneem, aangesien die besware uit die gemeenskap as wesenlik beskou is.
Mossel Bay Advertiser het verlede jaar oor hierdie moontlike omheining berig nadat Pacific Paramount Properties ’n aansoek by die munisipaliteit ingedien het om met die hernuwing van die huurooreenkoms vir die sentrum se parkeerterrein ’n deel van die parkering te omhein en daarna parkeringsfooie te vra.
Van die redes wat die aansoeker vir die omheining aangevoer het, sluit in kliënte se veiligheid weens rondlopers, besoekers aan nagklubs wat glo in die parkeerterrein baklei of met hul motorbande sirkels op die pad jaag (doughnuts), huurders wat dikwels urine en ontlasting voor hul winkelingange moet skoonmaak, en ook die gebruik van Bayside se parkering deur ander ondernemings se kliënte.
Die persone en instansies wat egter kapsie teen die aansoek gemaak het, se bekommernis oor heinings en ekstra gelde was onder meer dat dit die persepsie sal skep dat die area onveilig is, dat dit toeganklikheid sal belemmer, dat dit onooglik sal wees, dat dit toegang tot ander ondernemings sal bemoeilik, dat dit besoekers sou ontmoedig om die area te besoek, dat dit die verkeer sal ontwrig, dat die inwoners reeds hul sente moet omdraai en dat dit verdere finansiële spanning sal veroorsaak, en dat monitering van so ’n area deel van die gesamentlike beheersentrum (JOC) en Mossebaai CID (sentrale verbeteringsdistrik) se werk is.
Daar is ook vier kommentare ingedien. Een daarvan stel voor dat valhekke (booms) geïnstalleer kan word, maar dat die eerste uur se parkering gratis moet wees.
’n Ander het geen beswaar teen die betaling vir parkering nie, maar sê ’n heining is ’n absolute nee. Nog een meen die sentrum moet skoongemaak word, ’n dak moet oor die opeluggange binne die sentrum opgerig word en dat die parkering toegemaak kan word, maar dat dit steeds verniet moet wees. Die vierde het gesê dit is baie belangrik dat die huurooreenkoms voorsiening vir opgraderings, gereelde instandhouding en estetiese verbeterings maak.
Een van die ondernemings in die Bayside-sentrum was die enigste ondersteuner van die omheining en gelde (vir parkering langer as ’n uur), vir soortgelyke redes as wat die aansoeker aangevoer het.
Pacific Paramount Properties is die geleentheid gegun om op die besware te reageer en het (opsommend) gesê hy sal ter wille van die estetiese die heining laat vaar, en as ’n gebaar van goeie trou aan die gemeenskap ook die betaalde parkering, maar hy wil graag die reg voorbehou om in die toekoms betaalde parkering daar te stel.
Hy was ook bereid om sekuriteit te voorsien indien die area vir privaat gebruik was, maar sê daar kan nie van hom verwag word om alleenlik daarvoor verantwoordelik te wees nie, aangesien die area vir publieke gebruik is.
Hy versoek verder dat die huurooreenkoms soos dit is hernu word, en dat hy nie verplig wil word om verdere verbeterings aan die area wat verhuur word aan te bring nie.
Vorige artikel:
- Gedeelte van Bayside-sentrumparkering word moontlik omhein
- Laaste dag vir kommentaar oor moontlike omheining vir Bayside-parkering
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’