Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Evie, die hondjie van Island View wat vir 7 maande wild op straat gelewe het, is uiteindelik veilig en word gerehabiliteer vir 'n lekker hondelewe.
Mossel Bay Advertiser het Maandag berig oor Evie se doen en late en mense is gevra om haar nie te voer nie, sodat sy "gevang" en gerehabiliteer word.
Evie het sedert haar geboorte wild gelewe en is 'n 'feral' wat beteken dat dit 'n lang, senutergende proses is om haar "mak te maak" en te kry om mense te vertrou.
Karen Esterhuizen, wat reeds vier jaar in Island View woon, het van die begin 'n sagte plekkie vir Evie gehad en haar probeer help. Sy het die hulp van Steven Montgomery, 'n hondefluisteraar, ingeroep en saam het hulle begin werk aan Evie se rehabilitasieplan.
Evie is nou ongeveer sewe maande oud en hulle het besef dat die tyd min raak om haar te "vang" en te steriliseer voor sy dalk op hitte kom, dragtig raak en in die veld verdwyn. Dinsdagoggend, het Evie self in die hok ingegaan en Karen het besef die tyd is reg.
Hulle het die nodige ontspanningsmiddel gekry en in 'n stukkie hoender gesit en Evie is ingelok en dadelik na die Mosselbaai Dierekliniek geneem waar sy gesteriliseer, ontwurm en ingeënt is.
Daar was aanvanklik gevrees dat Evie nie die skok van die narkose op haar gestel kon hanteer nie, wat dikwels 'n probleem is by "wilde" diere. Die Advertiser het Donderdag by Evie en Karen besoek afgelê en dit lyk asof sy baie tevrede is in haar nuwe omstandighede.
Sy is baie geheg aan Karen en laat haar toe om naby haar te wees en haar te vryf. Karen en haar man het intussen besluit om vir Evie 'n veilige, permanente tuiste te gee.
Daar is nog drie ander honde op die erf met wie sy reeds 'n bietjie kontak gehad het. Karen vertel dat die volgende stap is om Evie stadigaan gewoond te maak aan 'n halsband, en dan in die vertrek rond te stap. As sy daaraan gewoond is, sal sy buite toe geneem word vir stappies in die omheinde erf en om aan die ander honde gewoond te raak. Karen beskryf Evie as 'n "rock star" en vir my lyk dit asof Evie nou in die hemel is, tevrede, veilig, warm en gelukkig.
VIDEO - Karen Esterhuizen vertel hoe dit met Evie gaan en wat die plan vorentoe is.
VIDEO - Karen Esterhuizen vertel van die proses om Evie in die vanghok in te lok en wat daarna gebeur het.
Vorige artikel: Island View hondjie binnekort gerehabiliteer
Evie is rustig en die oortjies spits weer, terwyl ons gesels oor die afgelope paar maande se gebeure.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’