Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Inwoners en besoekers aan Island View, Mosselbaai, is nou al gewoond aan Evie, 'n jong tefie wat die afgelope ses maande in die area te sien is.
Evie is geen gewone rondloperhond nie, en die publiek word versoek om haar nie te voer of kos van bakkies of uit voertuie na haar te gooi nie.
FOTOGALERY: Evie, van Island View
Evie is 'n wilde Africana hond (feral) wat saam met die res van haar werpsel vir dood gelos is. Sy is die enigste oorlewende hondjie en kan nie op die gewone manier "mak gemaak" word nie.
Karen Esterhuizen, 'n inwoner van Island View, het haar 'n paar maande gelede oor Evie ontferm en onlangs die hondefluisteraar, Steven Montgomery, se hulp ingeroep. Hulle is in die proses om Evie gewoond te maak aan Karen, sodat sy gevang en gesteriliseer kan word. Stelselmatige rehabilitasie word ook ingespan om haar te kry dat sy uiteindelik net by een eienaar in 'n omheinde gebied te kan bly.
Steven beklemtoon dat dit belangrik is dat Evie nie by ander mense kos of lekkernye kry nie, maar net by Karen. "Sy is nie 'n huisdier nie en sal ook nooit in 'n gewone opset kan bly nie. Soos op die foto's en video's gesien kan word, is Evie stadig maar seker besig om gewoond te raak aan Karen."
Sodra sy Karen genoegsaam vertrou, kan hulle haar in 'n spesiale vanghok inlok, waar sy verdoof sal word voor sterilisasie. Ná dit kan daar ernstig met die rehabilitasieproses begin word. Dit is uiters belangrik dat Evie so gou moontlik gesteriliseer word. As sy op hitte gaan sal sy in die veld verdwyn en nog 'n werpsel wilde hondjies, wat in die veld sal moet oorleef, voortbring.
Die publiek word dus versoek om nog net 'n rukkie geduldig te wees met Evie en haar glad nie kos te gee nie. Dit is haar enigste hoop om 'n vaste huis te kry.
VIDEO - Steven Montgomery verduidelik dat Evie se rehabilitasie baie geduld en vertroue behels.
VIDEO - Karen Esterhuizen verduidelik waar Evie vandaan kom en wat hulle doen om haar te rehabiliteer.
Die pragtige sewe maande oue tefie, Evie, wat deur die inwoners van Island View gehelp word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’