MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen nadat 'n vreemde vonds verlede week deur besoekers uit Pretoria op Diasstrand gevind is.
Volgens inligting ontvang van die polisie het die besoekers Donderdagmiddag op Diasstrand gestap toe hulle 'n donkerblou Adidas-sweetpakbaadjie waarin wat lyk soos 'n ribbebeen vassit, tussen rotse op die strand gevind het.
Munisipale werkers wat op die toneel was, het gehelp om die gruvonds uit die water te haal, waarna dit deur munisipale verkeersbeamptes aan die polisie oorhandig is.
Lede van die Da Gamaskop-polisie het hierna die toneel waar die vonds gemaak is, besoek vir nadere ondersoek.
Die polisie het die vonds vir forensiese toetse na Kaapstad gestuur het om te bepaal of dit menslike beendere is.
Enige persoon wat moontlik die betrokke klerasie kan eien word versoek om ao Marizaan du Plessis (044 606 2200) van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling te kontak.
Lees 'n vorige artikel: Eienaardige vonds op Diasstrand gevind
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'