Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Op 74 en na 65 jaar se volgehoue aktiewe deelname aan die All Saints-kerkbrigade, sê Charlie Hendricks steeds, dat hy homself sien in elke kind waarmee hy tot vandag toe nog te make kry. Hy was agt jaar oud toe hy by die brigade aangesluit het as 'n kaalvoetkind van Tarka.
"Dit was die inding in daardie tyd om aan die brigade te behoort. Die brigade het waarde tot 'n mens se lewe toegevoeg en van 'n jou 'n beter mens gemaak."
Sy pa was ook by die brigade betrokke. Hy vertel hoe die brigade sy beslag op die ashope van Engeland gekry het. 'n Oud-militaris het kinders sien speel tussen die gemors en besluit om iets aan die saak te doen. Hy het die kerk genader om betrokke te raak en met die toevoeging van militêre dissipline, was die brigade sommer gou op sy koers.
Sy vrou Madge, met 60 jaar diens op haar kerfstok het self, saam met haar ma, Magdalene Miller, diep spore in die brigade se geskiedenis getrap. Haar ma was een van die stigterslede van die brigade vir meisies oftewel girls brigade.
Kyk 'n video hieronder:
Lewenswaardes
Madge is vandag, op 77, die oudste vrou wat nog ten volle haar plek in die plaaslike brigade vol staan. "Ek moes my opwerk in die rangorde tot waar ek nou is. Dit het my baie in die lewe gehelp." Hoekom sy vandag nog voltyds voortgaan sê sy, is omdat sy so lief vir kinders is. Soveelso, dat sy en Charlie oor die jare heen buiten hulle eie spruite, nog vier ander kinders ook aan huis grootgemaak het.
Charlie vertel dat die brigade hom geleer het van selfrespek, selfdissipline, liefde teenoor ander. "Die ware lewenswaardes wat vandag nog geld in die brigade." Hy wys 'n ou foto waar hy in die sestigerjare die brigade lei as trommelmajoor. Hieroor, het hy destyds voorbladnuus vir Mosselbaai gemaak toe hy as die beste trommelmajoor aangewys is.
Maar hy is die nederigheid self, al vervul hy tans selfs 'n groter rol in die brigade se struktuur binne die groter streek met vier kompanies onder sy leiding. "Die brigade se kode sê dat ons nie boastful moet wees nie. Jy is nie beter as 'n ander man nie."
Hoogtepunte
'n Onlangse hoogtepunt vir Charlie was toe die brigade hulle 125ste bestaansjaar in Kaapstad gevier het. "Ons het gemarsjeer vanaf die Parade tot by die St George's-katedraal. Jy raak skoon bewoë as jy so marsjeer. Kaapstad se strate was oop, dit was net die brigades."
Hy vertel van al die manne wat deur die brigade vanuit Mosselbaai elders naam gemaak het as musikante. En ook van dié wat steeds, al het hulle koers na elders geloop, weer kom inskakel by die brigade as hulle Mosselbaai toe kom.
"Once a brigade boy, always a brigade boy," verklaar hy.
In 2021, is die All Saints-brigade op Mosselbaai 100 jaar oud. "Ons werk alreeds na iets groots."
Vereer
Charlie en Madge Hendricks is tydens 'n onlangse geleentheid gehou in die Portao Diaz Hotel, deur die ATKV Langsoustak as erfenishelde bekroon.
Die tak kies jaarliks iemand wat aan hierdie titel se vereistes voldoen.
Charlie Hendricks, 'n trotse trommelmajoor in die 1960s in Marshstraat. Hy is aangewys as die beste trommelmajoor in die provinsie.
'n Trompoppie-gehou op die D'Almeida-sportgronde waar die brigade ook opgetree het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'