MOSSELBAAI NUUS - Nierprobleme by geboorte, nierversaking op 21, 'n suksesvolle nieroorplanting op 25 en nou bloedkanker (limfoom) op 38 - maar Manie Taljaard lewe voluit.
Ná 'n onlangse terugslag in sy gesondheid het Taljaard, 'n inwoner van Mosselbaai, na verskeie toetse op 16 Julie die nuus oor die bloedkanker ontvang.
Sy ouer suster, Madeleine, het vir hom 'n BackaBuddy-rekening begin om met sy lewensonkostes te help.
Sy het onlangs vir Mossel Bay Advertiser vertel van Manie se lewensreis met sy gesondheidsuitdagings en hoe dit tans met hom gaan.
"Ek en Manie verskil twee jaar; hy is my ou grootwordmaatjie. Hy het op nege maande sy heel eerste groot operasie ondergaan. Daar was soveel kere wat hy as kind die lewensgang misgeloop het.
"Iets wat ek as sy suster nooit op daardie stadium kon verstaan nie, was hoekom my boetie nie met my kon speel nie - altyd met kateters en pype rondgeloop."
Op 21 het Manie totale nierversaking gekry, en die dokters het hom drie maande gegee. Maar deur dit alles was hy altyd gelukkig en het voluit gelewe, vertel sy.
"Ek kon dit net nie meer hou om te sien hoe hy elke dag vir jare en jare deur hospitaalgange moes loop en vir weke nie by die huis was nie.
"Ná baie toetse by Groote Schuur-hospitaal was ek toe 'n geskikte lewende skenker en het hy op 18 Janurie 2012 my regternier ontvang - die dag wat sy hele lewe verander het."
Madeleine sê Manie het van die teater tot in die intensiewesorgeenheid waar hulle gelê het, nege liter se water en gifstowwe uitgeskei, dat die dokters en susters gesê het dis 'n wonderwerk.
"Van hier kon hy vir die eerste keer op die ouderdom van 23 soos 'n normale mens lewe, eet soveel hy wil en vloeistof drink soveel hy wil. Voor die oorplanting mag hy slegs 500 ml vloeistof vir die dag ingeneem het."
Van hier af het Manie die geleentheid gehad om sy eie onderneming te begin en 'n hele nuwe lewe vir homself op te bou. Hy het 'n staalmaatskappy gehad en het ook so 'n bietjie ketelbou- en sweiswerk gedoen.
Hy het ook 'n groot passie vir motorfietsry.
Manie Taljaard
Manie het 'n werksgeleentheid in die Kaap gekry en daarheen verhuis, maar in Maart vanjaar het hy weer begin siek word en kon hy nie sy kos of vloeistowwe inhou nie.
In Mei het hy teruggetrek Mosselbaai toe. In Junie het die dokters die oorsaak as kanker geïdentifiseer, en later in Julie die tipe.
"Sjoe, dit was die grootste skok gewees - iets wat jy nooit vir enigiemand kan verduidelik nie, want ons en hy het dit glad nie verwag nie," sê Madeleine.
"Ek wens so iets nie aan my grootste vyand toe nie. In die drie weke wat hulle toetse op Manie in George gedoen het, is daar ses mense voor hom oorlede."
Madeleine sê Manie het self in daardie tyd 'n groot terugslag oorleef - "Soveel so dat die dokters daar gesê het: 'Manie, you are a walking miracle.'
"Die pad vorentoe is onbekend, maar Manie is positief en hy is nog altyd 'n fighter. Ek kyk altyd op na hom, want hy is 'n survivor en groot wonderwerk. Hy gaan die fight wen!"
Hy bly tans in Mosselbaai en wag vir die dokters om hom te laat weet wat die volgende stappe is.
Manie het deur sy suster ook elkeen wat hom in hierdie tyd ondersteun het, bedank. "Ek wil net vir almal duisende dankies sê vir hulle donasies, gebede en bystand in hierdie tyd. Ek waardeer elke persoon."
Enigeen wat Manie wil ondersteun kan BackaBuddy besoek: Manie Cancer Fight Support.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’