Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sy't gesê sy gaan die kroon kry en sy het.
Al klink dit soos iets uit 'n sprokiesverhaal, het Danica Barnard se kroning as Miss United Nation International verlede naweek in Toronto, Kanada nie sonder 'n bietjie drama verloop nie. Toe dié B.Ed-student, tans verbonde aan Curro Castle Mosselbaai in Toronto land, was daar van haar belangrikste bagasie, wat haar uitrustings vir die kompetisie insluit, geen teken nie.
Al het sy gevoel daarna om te huil, het sy maar kalm gebly en aanhou glimlag, want, meen sy, jy weet nooit of die beoordelaars jou dalk dophou nie. Gelukkig het die verlore tas knap voor die oriëntasietydperk sy opwagting gemaak.
Danica se ma, Ronel sê dit is die eerste keer dat Danica se goed so wegraak. "Hulle word geleer om altyd hulle belangrikste klere as handbagasie te dra, maar ons het gedink niks sal gebeur nie," lag sy lekker.
Gelukkig was dit 'n geval van eind goed, alles goed.
Jongste deelnemer
Danica was een van 21 deelnemers uit nege lande wat in haar kategorie meegeding het. "Aanvanklik het ek dit 'n bietjie onderskat, maar het gou besef die kompetisie is sterk." As jongste in haar kategorie, het sy te staan gekom teen deelnemers wat werk as aktrises, sangers, bloggers, mediese en meestersgraadstudente.
"Ek het vir my ma gesê 'ek is net 'n juffrou'..." sê Danica. Haar ma se antwoord was vinnig en beslis: "Dan is jy maar net die beste juffrou daar."
Danica verduidelik dat die beoordelaars veral opgelet het na die deelnemers se sosiale interaksie, hulle volgehoue stylvolheid en elegansie, asook die gemeenskapswerk waarby hulle in aanloop tot die kompetisie betrokke was. Van laasgenoemde het Danica 'n indrukwekkende portefeulje voorgelê.
'n Groot oomblik in Toronto verlede Saterdag toe Danica as die wenner in haar kategorie gekroon is.
Toe die wenners aangekondig is, lag Danica lekker oor haar flater. "Daar is aangekondig in my kategorie dat die wenner Miss Africa is en ek staan ewe en hande klap vir die wenner toe hulle weer aankondig en ek besef, maar dis ek."
Kyk 'n video hieronder.
Terugploeg
Nou gaan sy terugploeg in die gemeenskap en het groot planne. Verskeie organisasies het sedert haar kroning navrae gedoen oor hoe sy by hulle werksaamhede betrokke kan raak.
Danica sê sy is nou tevrede. Die internasionale titel is hare. Nie net is sy die eerste Miss United Nation International uit Suid-Afrika en Afrika nie, maar ook die eerste deelnemer uit Suid-Afrika en Afrika wat enigsens gekwalifiseer het om mee te ding.
Haar raad is: "Vat die kans. Moenie bang wees omdat jy van die platteland of net 'n juffrou is en nie 'n dokter nie. Moenie dat dit jou terughou nie."
Hoekom sê sy so? Want haar slagspreuk was nog altyd: "Believe in yourself and you will be unstoppable."
Suid-Afrika en Afrika se eerste Miss United Nation International, Danica Barnard toe sy Dinsdagmiddag op die George-lughawe aankom. Foto: Mariska Visagie
Lees vorige artikels hier:
- Accolades for local beauties
- Local model competing in Canada this week
- Passion for children
- Local wins Miss Africa UN crown
- Local model claims prestigious title
- Local model in Miss Africa pageant
- Mossel Bay model representing Western Cape
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'