Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vir twee maande is Tekkie van Rensburg (63) in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid behandel nadat Covid-19 in Oktober 2020 by hom gediagnoseer is.
Die dokters het in 'n stadium vir sy familie gesê dat hy 'n skrale 20% kans het om die virus te oorleef en dat al wat sy geliefdes verder kan doen, is om te bid.
Dié oud-speurhoof van die Mosselbaai-polisiestasie het Covid-19 oorleef, maar nie sonder 'n héngse geveg nie.
Sedert sy aftrede in 2018 na 42 jaar diens in die polisie, het Tekkie en sy vrou, Henkie die wêreld plat gereis. Iets waaroor hy vandag, veral ná sy skrikwekkende ervaring, dankbaar is.
Hy was steeds besig met sy leerhandwerk en die winkel waar hy sy ware verkoop. Boonop het hy graag met sy hond gestap, omdat, soos hy skertsend sê, sy hond en nie hý nie, oorgewig is.
"Ons het pas teruggekom van 'n oorsese reis en was bewus van Covid-19. Ek het die kruideniersware gekoop, nie my vrou nie. Ons het ons maskers gedra en ons hande ontsmet. Ironies genoeg het ek die virus by my vrou opgetel."
Kyk 'n video hieronder:
Die virus
Henkie was eerste siek en Tekkie het gevolg. "Sy het vir so twee weke sleg gevoel, maar herstel terwyl ek nie kon asem kry nie."
Vir iemand wat aan hoë bloeddruk ly, suikersiekte het en oorgewig was, was dit beslis kommerwekkend dat Tekkie Covid-19 opgedoen het.
"Alles het teen my getel. Ek het 30kg in die hospitaal verloor, maar dit is nie 'n dieëtplan wat ek vir enigeen sal aanbeveel nie."
Tekkie is op 15 Oktober 2020 in die Life Bay View privaat hospitaal opgeneem nadat hy asemnood ontwikkel het. Op 16 Oktober is hy aan 'n ventilator gekoppel. Hierna, is hy vir weke aaneen onder sedasie geplaas.
Toe die dokters hom uiteindelik kunsmatig wakker maak, het hy geen koördinasie gehad nie. Ook sy blaasfunksie is aangetas.
"Ek het nie geweet of ek links- of regshandig is nie. Ek kon nie praat nie en ek kon nie regop bly sit nie. Ek het ook nie geweet wat my adres is of waar ek woon nie. Tydens die sedasietydperk en veral toe die dokters my begin wakker maak het, het ek die vreemdste gedagtes gehad. Goed soos dat ek Ceres toe moet gaan, want daar is dit die koudste en daar is my kans om die virus op te tel, minder. Of, dat ek my vrou van 'n telefoonhokkie af probeer bel, maar nie die nommer het nie."
Van die tydperk in die hospitaal kan hy nie veel onthou nie. "Ek onthou wel dat ek baie eensaam gevoel het. Ek is iemand wat hou van gesels. Maar in die hospitaal kon ek nie praat nie. Daar is net ván my gepraat en óór my gepraat. Jy lê alleen. Maar ek het nooit moed verloor nie. Dít weet ek."
Hoop
"Die dokters, susters en al die personeel was ongelooflik. My dogters en vrou het gereeld gebel. Die suster sou dan die foon teen my oor hou en haar hand op my kop sit en saam met hulle vir my bid.
"'n Dokter het vir my gesê, toe hy een aand klaar met sy skof was, dat het hy regtig nie gedink het hy sal my die volgende dag weer sien nie. Ek is oorweldig deur die hoeveelheid Mosselbaaiers en mense wêreldwyd wat my in gebed opgedra het. Al wat ek kan sê, is baie dankie."
Komende van 'n baasspeurder, gee hy ietwat ironiese dog nuttige advies oor die belangrikheid daarvan om jou persoonlike inligting met jou naastes te deel. "My vrou het byvoorbeeld nie die pinkodes van my bankkaarte of selfoon gehad nie en dit was 'n groot gesukkel."
Hy is vol lof vir die susters en dokters by Vidamed waar hy tydens sy rehabilitasie was.
"As daar twee goed is wat ek uit my reis geleer het, is dit om jou geloofsake in orde te kry en om jou verhouding met jou geliefdes uit te sorteer. My vier dogters en vrou, Henkie was dáár vir my. Dit ruk aan my hart as ek dink hoe dit mense moet raak wat niemand het nie. Wat doen jy as jy vandag nog kwaad is vir iemand, en môre eindig jy in 'n gesondheidsituasie soos myne op?"
In sy beroepsjare as polisieman was sy lewe gereeld bedreig. "Ek onthou hoe ek eenkeer weggespring het toe 'n handgranaat gegooi is en 'n kollega daardeur getref is. Ek het 'n kans gekry en my kans gevat. Ek het nou wéér 'n kans gekry."
Hy sê hy het 'n nuwe waardering vir sy vrou en dogters. "Ek waardeer hulle nou meer as wat ek ooit tevore gedoen het. En, ek kry nóg 'n kans."
Tekkie en 'n motor wat hy eens besit het.
Tekkie van Rensburg en sy vier dogters, Suné, Linza, Erine en Berna. Dit is húlle wat hom deur die swaar tyd gedra het.
* Die Mossel Bay Advertiser het in September 2020 berig oor Alwyn Huisamen (68), ook 'n bekende in Mosselbaai, wat vir 55 dae vanweë Covid-19 gehospitaliseer is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'