Update
MOSSELBAAI NUUS - Bykans meer as 'n maand nadat 'n lid van die Mosselbaai Rugbyklub in 'n motorongeluk betrokke was en ernstige beserings opgedoen het, sê Chris Horn junior (24) dat dit goed met sy herstelpad gaan.
Horn junior (beter bekend as CJ) en sy familie se wêreld is op 2 November omgekeer toe hy op pad na Boggomsbaai waar sy ouers woon, beheer oor sy motor verloor het.
CJ het die vorige aand die Marylne klub se jaarlikse prysuitdeling bygewoon.
Daar word vermoed dat CJ agter die stuur aan die slaap geraak het. Die motor het van die pad geloop, gerol en in 'n veld beland.
Boonop was dit CJ se ouers wat toevallig op die ongelukstoneel gestop het om hulp aan te bied. In daardie stadium was hulle heeltemal daarvan onbewus dat hul seun in die ongeluk betrokke was.
Chris Horn junior.
Nou, 'n maand later, sê CJ hy voel goed.
In 'n video wat met Facebook gedeel is, het CJ verduidelik dat daar is egter nog geen beweging in sy bene nie.
"Die sensasie het so bietjie opgeskuif na my maag en lae rug toe. Dieselfde gevoel wat ek op my voete het, maar daar is nog geen beweging nie. Ek kry nog spasmas in my bene, en ek leer nog elke dag hoe om my bolyf weer te gebruik," verduidelik hy.
CJ het verlede week vir X-strale gegaan, sodat die dokters die toestand van sy nekbesering kon bepaal.
As die dokters tevrede is, sal CJ binnekort met rehabilitasie kan begin. Iets waarna hy uitsien.
"Ek is nie iemand wat hou van rondlê en niks doen nie, so dit is die frustrerenste van alles. Ek sien uit daarna om bietjie te werk en oefen," sê hy.
Hy sê die hele ondervinding is nie van die maklikste nie, maar met die ondersteuning van sy familie en vriende, is dit amper 'n "walk in the park".
"Ek waardeer elke gebed en boodskap wat op my pad gekom het, en ek weet daardie gebede sal waar word."
Vorige artikel: Rugbyspeler in ongeluk beseer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’