Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Danksy gesamentlike pogings van verskeie nooddienste, boere en lede van die publiek is 'n brand wat Dinsdagaand, 17 Mei ongeveer 20:00 in die Ruiterbos-omgewing uitgebreek het, geblus.
Die brand het vermoedelik langs die R328 by die Monument op die Robinsonpas begin en is binne net meer as ses ure onder beheer gebring.
Teen Woensdagoggend het die veld nog hier en daar gesmeul.
FOTOGALERY: Ruiterbos-omgewing se brand
Brandspanne het die situasie deur die nag dopgehou en daar is Woensdag begin met opruimingswerk. Aandag is verder ook geskenk aan plekke wat nog gesmeul het.
Die Ruiterbos-plaaswag en Whatsapp-groepe in die Ruiterbos-omgewing het eerste alarm gemaak. Brandspanne van Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdienste, asook die distriksmunisipaliteit se brand- en reddingspanne, Working on Fire, department bosbou, visserye en omgewingsake (DFFE) se bosbou-ondersteuningsprogram, CapeNature, personeel en privaat inwoners by die bosboustasie, asook verskeie boere in die omgewing het ingespring om te help.Hoewel die veldbrand twee van die privaat wonings bedreig het, was daar geen lewensverlies of skade aan infrastruktuur aangerig nie.
VIDEO - Brand na sowat ses ure onder beheer (Video: Jannie du Plessis).
Wat dinge vererger het, was 'n baie sterk en warm noordoostewind wat die vuur aangejaag het.
Voorbrande in die Ruiterbos-natuurreservaat het gehelp om die brand te stuit, maar by twee privaat wonings moes spanne bontstaan. In eengeval is die vlamme eers 30m van een van die huise af geblus.
Die area waar die brand voorgekom het.
Dit was opmerklik dat daar baie vroue gehelp het om die brand te beveg. Provinsiale verkeer was op bystand om die Robinson-pas toe te maak indien nodig. Vinnige optrede het egter bygedra tot die sukses dat die brand nie verder versprei het.
Veldbrande kan direk aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gerapporteer word deur die beheersentrum te skakel (044 805 5071).
Vorige artikels:
Brandspanne veg verwoed teen die vlamme in baie sterk wind Dinsdagaand, 17 Mei in Ruiterbos. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'