Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Brand Dinsdagoggend, 29 Oktober by die Boeretroos en Moerse Lekker Vetkoek-winkel op die hoek van Majuba- en Paardekraalweg in Hartenbos, het baie groot skade aangerig.
Die brand het om ongeveer 05:00 ontstaan in die kombuis van hierdie gewilde eetplekkie.
Personeel is deur die ATKV gekontak om te sê dat daar rook by die gebou uitkom. Die brandweer is ontbied waarna die brand geblus is, maar groot skade is aangerig aan die kombuis en toerusting. Verskeie ander vertrekke in die gebou het rookskade opgedoen.
Ten tye van die brand was nie een van die vier werknemers op die perseel nie. Personeel het die oggend buite gewag en wou nie begin opruim voor die ondersoek afgehandel is nie.
Andries Jansen van Rensburg, eienaar van die winkel het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die skade en toerusting beloop sowat R250 000. Teen Woensdag het die assessors nog nie die brand kom inspekteer nie.
Dit moet eers plaasvind voor daar 'n ondersoek gedoen kan word oor die oorsaak van die brand. Andries noem egter dat die geldlaai en selfone nie op die perseel gevind is nie en dat 'n gat in die plafon moontlik kan aandui dat daar 'n inbraak was.
Hy sê ook dat die perseel gesluit sal wees totdat die assessering en ondersoek afgehandel is. Hierna se herstelwerk gedoen moet word.
Personeel het buite gestaan en wag vir die ondersoekspan om die oorsaak van die brand te bepaal. Foto's: Jannie du Plessis
Lees 'n vorige artikel: Brand verwoes gewilde eetplek
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'