MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat bekendheid verwerf het as 'n vermaaklikheidskunstenaar en by 'n plaaslike radiostasie 'n omroeper was, het verlede week in die hof op Mosselbaai op klagtes van diefstal verskyn wat verband hou met registrasiegelde wat nie oorbetaal is nie.
Die 48-jarige Pieter Thiart het op 12 Augustus in die hof op Mosselbaai verskyn nadat hy volgens inligting in minstens twee gevalle geld van sy kliënte aanvaar het om registrasies by die NHBRC te doen.
Een van die klaers het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle in November 2019 bouwerk aan Thiart toevertrou het. "Alhoewel ons meer as R20 000 betaal het, is ons huis tot vandag toe nog nie by die NHBRC geregistreer nie." Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het 'n kollega na Thiart verwys voordat dinge versuur het en hy het dieselfde stel afgetrap.
"Ek het op 6 Januarie R25 000 betaal vir my NHBRC-registrasie, maar nooit bewys van betaling ontvang nie. Ek het herhaaldelik daarna gevra en elke keer moes ek na verskonings luister. Die uiteinde was dat ek self navraag gedoen het en toe moes hoor dat die geld nooit oorbetaal is nie."
Eers hierna, het die vrou ook die lot van registrasiegelde in haar geval verneem. Beide klaers het aan die Advertiser gesê dat hulle ver meer as die registrasiegelde aan Thiart vir bouwerk oorbetaal het.
Die Advertiser is ook gekontak deur ander persone met soortgelyke klagtes, maar is op hede nie bewus van verdere kriminele klagte teen Thiart nie. Een vrou van Heidelberg wat gereeld in Danabaai kuier het haar na sosiale media gewend om haar klagtes oor Thiart bekend te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'