Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Waar 'n rokie trek, is 'n vuurtjie. Vir 'n bosslaper was dit juis dié rokie van die vuur binne sy strandskuiling wat sy skuilplek verklap het.
Bekommerde inwoners het die Da Gamaskop-polisie gekontak oor rook wat met tussenposes uit die bosse op Diasstrand naby De Bakke opgemerk is. Toe die polisie ondersoek instel, is op 'n volwaardige bosskuiling onder digte bosse teen die duin afgekom. Slegs een persoon is binne die skuiling aangetref en hierdie persoon is vir die besit van dagga gearresteer. Dit is egter nie duidelik of die persoon alleen in die skuiling gebly het nie.
Mosselbaai se munisipale wetstoepassers het daarna die amper onbegonne taak gehad om die skuiling af te takel.
Deeglik gebou
Dit was duidelik dat die skuiling goed beplan is, deeglik gebou en in stand gehou is. Duursame swart bouersplastiek is gebruik om die plafon te vorm sodat die skuiling droog kan bly. Hiervoor is drade kruis en dwars gespan om seker te maak dat stompe en takke behoorlike stutte kan vorm en die plafon hoog gehou het.
Daarbenewens is karton gebruik om die "mure" af te werk, waarskynlik om die ergste wind te keer.
Die voordeur was 'n besondere klein gat in die bos wat met 'n stuk visnet toegegooi is. Niksvermoedende persone sou digby die skuiling verby kon loop sonder om daarvan bewus te wees.
Binne die skuiling was 'n vuurmaakplek naby die deuropening, waarskynlik om te help dat die rook nie binne die skuiling moet warrel nie.
Benewens verskeie leë waterhouers en bottels, is verbrande bene in die herd gevind. Daar was ook sakke met ou klere en beddegoed.
Die kombuistoonbank het egter sy eie storie vertel, met tekens van dwelmmisbruik wat gespreek het uit halwe bottelkoppe, vuurhoutjiereste en stukkende glase.
Met die hulp van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het wetstoepassers uiteindelik Sondagmiddag, 24 Junie twee bakkievragte rommel uit die skuiling verwyder.
Bied hulp omsigtig
"Die insident is net weer eens 'n bewys dat welmenende inwoners die bosslapers geen gunste bewys deur vir hulle kos en klere te gee nie. Dié mense moet gehelp word om in die stelsel opgeneem te word by Mosselbaai se Haven-nagskuiling sodat hulle uiteindelik met hul families herenig kan word," maan adv Giliomee.
Hy wys tereg daarop dat die area waar die skuiling opgespoor is, juis is waar verskeie voorvalle van gewapende roof op niksvermoedende strandgebruikers vantevore voorgekom het.
"Die Da Gamaskop-polisie sal ook die selfoon wat binne die skuilplek opgespoor is, nagaan om vas te stel of dit met enige misdrywe verbind is, al dan nie."
Binne die skuiling is die takke en stompe vernuftig gebruik om die skuiling se dak behoorlik regop te hou.
Mosselbaaiers word weer eens gemaan om nie bosslapers en haweloses met kos, komberse, klere of ander hulpmiddele te help nie.
Die Haven-nagskuiling het verskeie toegewings gemaak om haweloses tegemoet te kom. Die toegangsure is onder meer gewysig om die haweloses wat wel 'n werkie losslaan tegemoet te kom sodat hulle nog betyds kan aanklop. By die Haven is die haweloses verseker van voedsame kos, 'n warm bed en warm water vir higiëne. Deur hulle met 'n paar rand hier of 'n aalmoes daar te help, moedig hulle aan om nie die nagskuiling se dienste te gebruik nie en dra by tot misdadigheid wanneer hierdie mense hulle tot misdaad wend om 'n karige bestaan te kan maak. Hulle bly dan ook buite die raamwerk van statistieke en beskikbaare programme wat juis ten doel het om die haweloses weer effektief met die gemeenskap te integreer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'