MOSSELBAAI NUUS - Alta Scott het nie net 'n kreatiewe hand met blomme nie, maar haar besigheid se naam, Deur Die Blare het haar 'n Tinteltong-toekenning besorg. Dié toekennings word deur AfriForum se Sakenetwerk gedoen.
Die toekennings het sy beslag in 2016 gehad. Destyds is daar slegs geskenkpakkies aan ondernemings gestuur wat die beoordelaars beïndruk het. Getrou aan Afrikaner-kultuur, is die eerste amptelike feesviering in 2017 gehou.
Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum se Sakenetwerk, is daar met hierdie toekennings begin om ondernemings te beloon wat Afrikaans is en hul dienste in Afrikaans bied.
Die toekennings is dus daarop gemik op entrepreneurs wat daarvan hou om in hul moedertaal handel te dryf én wie se ondernemings name het wat lekker op die tong val.
Tydens vanjaar se kompetisie, is daar in 11 kategorieë meegeding waarvoor die publiek uiteindelik gestem het. Vanjaar is daar ook vir die eerste keer 'n kategorie vir ondernemings in die buiteland aangebied.
Scott het haar toekenning verlede week Woensdag, 23 Februarie in Pretoria ontvang. Die toekennings word aangebied gedagtig aan Internasionale Moedertaaldag, wat op 21 Februarie gevier word. Sy het in die kategorie vir handgemaakte produkte en dienste met die louere weggestap.
"Ons is baie trots op Alta wat hierdie spogtoekenning vir ons huis toe gebring het," sê Joy Cook van AfriForum Mosselbaai.
Tong in die kies
Alta is al meer as 20 jaar in die blommebedryf, maar dis eintlik in die afgelope vyf jaar dat sy haar op Deur Die Blare toespits. 'n Liefde vir die natuur was van kindsbeen deel van haar leefwêreld. Buiten haar ouers se invloed, leef sy eintlik haar ouma se droom.
"My ouma wou altyd 'n blomwinkel hê. Sy het in Johannesburg aan bloemistes groenigheid verskaf."
Van haar groot leermeesters was Charles Kinnear, 'n kenner van ikebana. Alta praat met agting en dank van Kinnear en verduidelik hoe sy gaandweg haar eie styl ontwikkel het, bestaande uit Westerse blomkuns gemeng met ikebana.
Wat die naam van haar besigheid betref is die fokus absoluut daarop om tong in die kies te wees.
"Ek glo absoluut daaraan dat 'n mens pret moet hê as jy werk. Baie mense bel my juis omdat hulle so mal is oor die naam. Mense vergeet dit ook nie sommer nie. Dit steek by hulle vas. Buitendien is ek ook eintlik bietjie deur die blare," lag sy.
Sy speel ook tans met die ontwikkeling van 'n nuwe produktelyn met haar naam as die handelsmerk daarvoor. Volgende jaar reken sy, mag sy dalk hierdie besigheidsnaam, Altarnatief inskryf vir 'n Tintenltong-toekenning.
Hoewel die Covid-19-pandemie ook haar besigheid en die blommebedryf in die algemeen geknou het, sal Alta se hande maar "in die blare" bly.
"Met elke bos blomme gee ek iets unieks van myself. Ek sit my beste energie in, want ek doen dit vir namens iemand anders wat dit nie kan doen nie."
Alta bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning en AfriForum Mosselbaai wat haar geborg het om die toekenningsgeleentheid by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'