MOSSELBAAI NUUS - In 2017 het 'n 82-jarige Mosselbaaier, Ben Badenhorst die gevreesde listeriosevirus oorleef wat die ganse Suid-Afrika op hol gehad het.
Sy familie en ook Ben self het destyds aan die Mossel Bay Advertiser vertel van die talle wonderwerke wat tot sy diagnose, oorlewing en herstel van dié dodelike virus gelei het.
Ben is op Saterdag, 7 Maart tuis oorlede nadat hy die afgelope tyd nie gesond was nie.
Toe Ben in November 2017 siek geword het, kon daar ten spyte van etlike toetse nie vasgestel word wat hom makeer nie. Hy ondergaan op 28 November 2017 'n aorta-omlying en kom na 'n operasie wat nege ure lank geduur het uit die teater met 'n glimlag op sy gesig. Eers sowat 'n week later, was daar 'n diagnose vir wat hom makeer het - listeriose.
Volgens sy dogter Mariaan Viljoen, het hy hierna vir ongeveer 'n jaar en 'n half goeie lewenskwaliteit beleef.
In Augustus 2019, kry hy 'n gesondheidsterugslag nadat longsontsteking, vog op die longe en hartversaking by hom gediagnoseer is.
"Die baie groot omlyningsoperasie het sy tol begin eis op die organe, maar liefste Paps het nooit ophou veg nie."
In November is hy opgeneem met 'n erg geswolle buik.
Hy is met nierversaking gediagnoseer. "Weer eens herstel hy pragtig, maar kry 'n terugslag as gevolg van 'n kiem in die liggaam, maar herstel wonderbaarlik."
Met 'n verdere diagnose van diabetes, het sy kragte begin afneem. Na verskeie kere se hospitalisering, is hy Vrydag, 6 Maart huis toe gestuur. "Hy wou so graag tuis wees."
Vir die familie is dit van kardinale belang dat die boodskap uitgedra word dat alle eer hulle Hemelse Vader toekom vir die pad wat hy met Ben gestap het en dat Hy hom gebruik het as voorbeeld dat God wel wonderwerke doen.
"Sonder gebed sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Vir bietjie langer as twee jaar het die gemeenskap saamgestaan in gebed - en dis vir ons die boodskap wat moet krag dra."
Ben word vandag, 13 Maart om 11:00 vanuit die NG Hartenbos begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'