MOSSELBAAI NUUS - Dat die 82-jarige Ben Badenhorst van Island View oorleef het nadat hy listeriose opgedoen het, is niks minder as 'n wonderwerk nie.
Veral omdat hy vanweë sy ouderdom, in die hoë risiko groep val vir wie listeriose dodelik kan wees.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het vandeesweek by navraag gesê dat tot op hede, ses bevestigde gevalle in die Eden-distrik voorgekom het waaronder twee sterfgevalle was.
Listeriose word opgedoen deur besmette kos te eet. Die inkubasietydperk is drie tot 70 dae na besmetting.
Daar word steeds kopgekrap oor die oorsprong van listeriose in Suid-Afrika.
Wat sake bemoeilik, is dat besmette kos nie vreemd voorkom nie en ook nie sleg ruik nie.
Met listeriose landswyd in die kollig, het die Mossel Bay Advertiser met Ben, sy vrou Suzie en hulle dogter, Mariaan Viljoen aan huis gaan gesels oor sy ervaring.
Septiese aneurisme
Op Saterdag, 11 November 2017 het Ben begin sleg voel. Die Sondag het 'n gastro hom lamgelê.
Met sy hospitaalopname die Maandag, word hy vir ontwatering behandel. Bloedtoetse word gedoen, maar lewer niks op nie.
Na sy ontslag het 'n stywe nek hom laat wonder of hy sy nek verlê het. Later met aanraking, was sy kop seer en toe ook ander dele van sy lyf.
Hy was sonder energie.
Op 20 November word hy weer in die hospitaal opgeneem en sy koors styg.
Teen 22 November is sy infeksietelling oor die 200, teenoor die normale telling wat vyf behoort te wees. Op 23 November kom die diagnose – 'n septiese aneurisme.
Dokter Jan-Hendrik Barnard was dit eens dat 'n oorplasing na die Panorama Mediclinic in Kaapstad Ben se enigste hoop op oorlewing was. Vaskulêre chirurg, dr Danie du Toit sou kon help.
'Alles was vrot'
Ben is om 17:20 op 28 November teater toe. Kort voor 02:00 die volgende oggend was hy uit die teater.
"Ek was by toe ek uitkom en die dokter het gesê - 'oom, jy't ons laat rondspring laasnag'.
Hy het gesê toe hulle my oopmaak, hulle my netso weer toegemaak het en eers gaan beraadslaag het oor wat om te doen. Toe hulle my oopmaak was alles vrot."
Mariaan bevestig dat dr Du Toit aan haar dieselfde mededeling gemaak het. "Die aorta, die ingewande was weg, alles was vrot. Hulle moes alles weer opbou."
As hy vir 'n opvolg besoek gaan, vertel Ben nadat hy op sy buik en bors probeer beduie het, sal dr Du Toit vir hom met 'n skets verduidelik wat gebeur het.
"Hulle moes grawe om alles uit te kry. Daar was gate wat hulle moes toepak…"
Dat hy oorleef het, op sy ouderdom, is getuigskrif van 'n wonderwerk, meen Mariaan. "Hy is uit die teater sonder 'n ventilator, met die ogies oop.
"Die volgende dag het my pa al lekker gesels dan lig hy sy hand so op en sê 'leef ek regtig?'."
Die dokters het na die operasie gesê dat hulle tekens van salmonella gevind het wat nie vir hulle sin maak nie.
Die kweek van monsters het dae na die operasie eers die ware oorsaak onthul op 10 Desember, 'n maand nadat Ben siek geword het.
Dit was listeriose.
'n Wonderwerk
Dat die gesin dankbaar is vir die wonderlike mediese sorg staan bo enige twyfel. Maar vir hulle is die groot wonder, die krag van gebed.
"Toe my pa in Life Bay View-hospitaal was, het drie vroue vir hom in die hospitaal gebid. Hulle het net gekom en gesê hulle kan nie bid nie, maar wil vir hom bid."
So ook het 'n kelnerin van Stars, Nandi, waar Mariaan en haar ma tydens Ben se siekbed bekommerd gesit het, met vriende by die hospitaal kom bid, net voor hy oorgeplaas is na Kaapstad.
"Nandi het ons kom soek. Sy het by die hospitaal se ontvangs aangekom en gevra na 'Mariaan's sick father'. Toe ek op 'n kol buite kom hoor ek net iemand roep 'there she is, there she is'.
Dit was Nandi en 'n groep vriende." Sy het aan Mariaan gesê dat sy en haar gebedsgroep direk vanaf hulle gebedsbyeenkoms gekom het om vir Ben te kom bid.
Nandi het gesê: "We pray at the mountain every morning, we want to pray for Oupa'. En net daar het ons gestaan en soos een gesin vir Oupa gebid."
So ook, sê Mariaan, was daar soveel gebede - van oraloor.
'n Tweede terugslag
Op 15 Desember 2017 is Ben vir die eerste keer huis toe. Maar daar het nog 'n terugslag op hom gewag.
Op 2 Januarie vanjaar ontwikkel hy massiewe trombose in sy linkerbeen. Weer is hy gehaas na Panorama, maar die goeie nuus, as 'n mens dit so sou kon noem, was dat dit slegs 'n opwaartse trombose was waarvoor hy tans behandeling kry.
Hoe Ben die kiem opgetel het, is onbekend. "My ouers eet nie uit nie en koop nie op snaakse plekke nie. Hulle doen nie die goed waarteen almal waarsku nie."
Hulle moes 'n lywige vraelys van die departement van gesondheid invul, as deel van 'n poging om die oorsaak van die dodelike listeriose te bepaal.
In ander lande waar dit uitgebreek het was die oorsake spanspek, appels en roomys.
Maar vir die oomblik, soek die gesin skynbaar nie te veel verklarings nie. Want die grootste vraag is reeds beantwoord.
Ben het op 82 'n tweede kans gekry.
Ben Badenhorst glimlag na 8 ure in teater waartydens dokters moes bontstaan om sy lewe te red.
ARTIKEL & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'