Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrikaners, insluitend Mosselbaaiers, het weer eens binne 'n bestek van drie weke gewys dat hulle, ongeag die stormagtige en onseker tye wat die land beleef, steeds groot harte vir diegene in nood het.
Ongeveer drie weke gelede, het Madeleen van den Bergh, 'n vrou van Pretoria tydens 'n radio-onderhoud met Amoré Bekker op RSG, die Baadjies aan bome-projek bekendgestel. Die konsep is ontleen aan Turkye en Australië waar dit reeds 'n geruime tyd groot aftrek kry.
'n Groepie vroue uit die groter Mosselbaai het van die projek te hore gekom en met mening ingeklim om reëlings te tref.
Skenkers is gevra om baadjies en ander nuttige klerasie te skenk wat dan deur persone met behoefte gratis op 31 Julie afgehaal kon word. Twee afsetpunte is gebruik.
In Mosselbaai het klerasie aan bome in die Harry Giddey-pak gepryk en in Groot-Brakrivier, aan bome in die park by die munisipale kantore.
Joey Engelbrecht, een van die organiseerders, het Saterdag tydens die geleentheid gesê dat hulle deur die reaksie op die projek oorweldig is.
"In Groot-Brakrivier was die voorraad binne minute uitgeput. Ook in Mosselbaai is ons baie tevrede met die sukses."
Tydens die geleentheid, is klerasie op 'n veilige afstand uit mekaar gehang, gedagtig aan die Covid-19-regulasies.
Klerasie met die Free on a tree-etiket. Foto: Cornelle Carstens
"Ons het ook probeer om die besoekers te vra om die klerasie waaraan hulle vat, te neem, ter wille van almal se veiligheid."
Engelbrecht het gesê dat hulle trots is op die terugvoering wat hulle aan die nasionale organiseerders kan gee.
"Ek het 'n foto geneem van 'n hawelose man wat sy nuwe kombers om sy bed van karton gedraai het. Dit het my baie geraak en dit is stunning vir my om te weet daardie ou slaap vanaand warm."
Engelbrecht het gesê dat die groep beslis weer aan die projek sal deelneem en selfs daaraan dink om dit sinvol uit te brei.
Rhone Roos, Zerilda Lodewyk en Hannelore van der Walt het in die Harry Giddey-park gehelp. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'