MOSSELBAAI NUUS - Twee vroue van Pretoria, Madelene van den Berg en Ina Botes, het verlede week tydens 'n onderhoud op RSG aan omroeper Amoré Bekker hulle nasionale welwillendheidsprojek verduidelik.
Dié vroue wou in hierdie neerdrukkende tyd, boonop te midde die winterkoue, iets positiefs doen.
Hulle kry toe inspirasie by Oliver Edwards van Australië wat 'n gemeenskapsprojek, Free on a Tree begin het. Hy het baadjies en warm klere aan bome gehang en enige persoon wat nood hieraan sou hê, kon iets kom neem.
In Turkye is daar ook so 'n jaarlikse tradisie. Vandaar het die Pretorianers besluit om 'n soortgelyke gemeenskapsprojek, die Baadjies aan bome-beweging in Suid-Afrika te begin. Hiervolgens word alle Suid-Afrikaners uitgenooi om op 31 Julie 'n baadjie, jas of enige warm klere in hul dorpe op te hang. Daar is reeds 61 dorpe in Suid-Afrika wat die beweging steun en die inisiatief groei steeds.
In Mosselbaai het dit ook posgevat dansky 'n groep vroue wat hulleself die Hartsvriendinne noem. Die groep het ingeskakel by nog twee vroue wat aan die stuur van die winkel, Simply Us staan en so is daar ook met die Mosselbaai-munisipaliteit hande gevat vir verdere steun.
Met volle Covid-19-regulasies in plek, gaan die plaaslike Baadjies aan bome-geleentheid op 31 Julie in Harry Giddey-park plaasvind.
"Ons doen 'n beroep op alle Mosselbaaiers. Kom ons maak ons harte oop en neem deel. So baie mense in ons dorp het hul werk verloor. Kom ons dink veral aan diegene in die gasvryheids- en toerismebedryf," versoek Joey Engelbrecht, een van die organiseerders.
Die geleentheid vind plaas van 09:00-15:00.
"Toegang sal bestuur word volgens Covid-19-maatreëls. Almal sal daar 'n kaartjie kry om aan hul baadjie te sit. Skryf jou boodskap van liefde en seën vir die ontvanger van die baadjie."
Vir meer inligting, skakel Joey (082 806 9443) of Theunie (072 451 9898). Baadjies kan ook by Franci, Montagustraat 113 afgegee word.
"Besighede wat betrokke wil raak kan gerus van hul laat hoor. Op 31 Julie verjaag ons die koue met liefde uit Mosselbaai."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'