MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se bekendste Karookind, Marie Ferreira, voormalige burgemeester en kampvegter vir die dorp, het die naweek 'n besonderse mylpaal behaal toe sy saam met vriende en haar familie haar 80ste verjaarsdag gevier het.
In November 2019 het 'n kobra haar in haar voet by haar huis in Hartenbos gepik en hoewel daar baie benoude oomblikke was, het sy vasgebyt en vandag is sy springlewendig.
Marie het met haar kenmerkende vonkel in die oog vertel hoe sy as Karookind op Mosselbaai beland en in die politiek betrokke geraak het, eers as burgemeester van Hartenbos en later toe die gebiede saamgesmelt het, in 2006 as die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai.
Dit was nie altyd maklik nie, maar sy's 'n vrou wat nie van opgee weet nie. Daarom het sy juis haar dank uitgespreek dat sy in die geharde Karoo gebore en getoë is, want dit het haar onderbou gevorm wat so belangrik vir haar latere loopbaan was.
Petru Terblanche, die huidige speaker van die Mosselbaai munisipale raad, wat saam met Marie in die munisipale raad van Hartenbos, asook die Mosselbaai gedien het, het Marie geloof vir die manier waarop sy vroeër jare "die jong perde" in toom gehou het.
"Want 'n jong perd wil mos net uitbreek en in alle rigtings hol," het hy bygevoeg. Met die destydse samesmelting van Hartenbos met Mosselbaai is hy en Marie en die ander raadslede as die "sewe dwergies" uitgekryt omdat hulle kwansuis nie sterk genoeg was om Hartenbos uit die mix te hou nie.
"Dankie dat ek jou 80ste verjaarsdag saam met jou kan vier. Ek belowe om jou ook na my 80ste te nooi," het hy skertsend bygevoeg.
Met 'n knop in haar keel het Marie melding gemaak van haar wyle eggenoot, Len wat onder andere haar klankbord was. "As ek in die aand laat by die huis gekom en my tas neergesit het, het hy presies geweet in watter bui ek is," het sy bygevoeg.
Sy het ook hulde gebring aan die raadslede en amptenare wat saam met haar gewerk het.
'n Ystervrou wat diep spore in die Mosselbaai-gemeenskap getrap het. Miskien 80, maar beslis nog nie uit nie.
Marie Ferreira, Mosselbaai se eie ystervrou met die sagte hart het die naweek haar 80ste verjaarsdag gevier. Hier is sy saam met van die "ou" en huidige raadslede. Van links, Dirk Kotzé (onderburgemeester), Petru Terblanche (speaker), Marie Ferreira en Jim van der Merwe (voormalige raadslid). Foto: Denise Lloyd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'