Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Man van Mosselbaai is Maandagmiddag, 14 Desember deur 'n verdagte in Marshstraat met 'n mes gesteek en oomblikke later voor die Standard Bank inmekaargesak.
Die man, 'n 20-jarige inwoner by Die Haven-nagskuiling, het op die trappe voor die bank aan sy wonde beswyk.
Terwyl paramediese personeel van By Grace en provinsiale ambulansdienste die man se lewe probeer red, het vriende hom heeltyd aangemoedig om vas te byt. Die paramediese personeel kon egter niks vir hom doen en hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens ooggetuies was daar glo voor die messtekery 'n argument tussen die oorledene en die verdagte.
Die argument het 'n entjie daarvandaan begin waarna hy toe met die mes gesteek is. Hy het tot by Standard Bank gestrompel waar hy inmekaargesak het.
Twee mans is kort na die voorval op die toneel deur die polisie in die vangwa gelaai, nog voor die man aan sy wonde beswyk het.
Kyk 'n video hieronder:
Die hoofverdagte, 'n 20-jarige is steeds in aanhouding. Die man wat saam hom was, is weer vrygelaat en was net saam in die vangwa gelaai omdat die twee saam op die toneel van die moord was.
Die mes waarmee die moord gepleeg is, is deur die polisie gevind. Na die man se dood het polisie die toneel afgesper en forensiese deskundiges is ontbied om die toneel te ondersoek.
Die verdagte is na die Mosselbaai-polisiestasie geneem. Hy het Donderdag, 17 Desember in die hof op Mosselbaai verskyn.
Vriende van die twee verdagtes en die slagoffer huil en pleit by die verdagtes in die vangwa net nadat hul vriend aan sy steekwond beswyk het.
Vorige artikel: Man in Marshstraat doodgesteek
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'