MOSSELBAAI NUUS - Twaalf verdagtes in 'n saak bekend as die 'Visserysaak' wat vir sestien jaar in die Mosselbaai Streekhof gesloer het, is onlangs in die Hooggeregshof in Kaapstad vrygespreek.
Die lys van beskuldiges wat vrygespreek is op alle aanklagte teen hulle is:
Clifton Esau, Nigel Pedro, Jason Abrahams, Ronnel Williams, Branville Abrahams, Magdalene Meyer, Johannes Vermeulen, Samuel Walters, Johannes Pelser, Manny's Fisheries CC, Manuel de Sousa, Temaca and Da Gama Fisheries CC, Rosemary Netto and Carlos Netto.
Die saak, wat groot aandag getrek het in die visvangbedryf het aanvanklik uit 33 verdagtes bestaan.
Verskeie persone in die visbedryf wat vissers, skippers, vismaatskappye en selfs trokdrywers insluit is gedagvaar nadat hulle na bewering onwettig in sardyn gehandel het.
Die mans is daarvan aangekla dat hulle tussen April 2001 en Maart 2004 nie vis wat hulle in Mosselbaai waters gevang het, laat weeg het of verklaar het nie. Die vis is glo na bewering uit die hand uit verkoop. Dertien van die verdagtes het skuldig gepleit en 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Johan Pelser (70) is een van die mans wat vrygespreek is, en het met die Mossel Bay Advertiser gesels:
"Die saak het ons verlam. Ons is baie bly dat dit nou afgehandel is. Ons het geweet ons is onskuldig, maar die jarelange gesloer van die saak het ons sielkundig aangetas."Pelser sê hy moes weens die spanning wat die saak by hom veroorsaak het, 'n sielkundige op Mosselbaai sien. "Ons was elke maand bykans vier dae in die Mosselbaai Streekhof, maand na maand. Weet jy wat doen dit aan 'n mens?"
Mosselbaaier, Manuel de Sousa (Manny) (57) het ook vir jare lank met die swaard oor sy kop geloop en het die week aan die Advertiser gesê hy is dankbaar dat die waarheid uitgekom het.
"Sestien jaar is nie speletjies nie. My kinders was nog op skool gewees toe die saak begin het. Ons het destyds gesien die Skerpioene neem foto's by die hawe, maar het nie geweet waaroor dit gaan nie. Daar het bote van die Kaap af ingekom wat vis gelaai het en my gebel het en gevra het of ek van vis wat oorgebly het wou kom haal, omdat hulle byvoorbeeld net 24ton kon laai, maar 25ton gehad het. Ons het eers toe ons in hegtenis geneem is gehoor dat die bote nooit die vis verklaar het nie, ons het dit nooit geweet nie."
De Sousa sê die reperkussies van sy in hegtenisname het sy hele familie hard geslaan. "Daar is op my besighede en voertuie beslag gelê en selfs op my ouers se eiendom beslag gelê. Die saak het geweldige stres op my pa geplaas. Hy is intussen oorlede. Mense het gedink ek is skelm en ek moes bykans R1.7 miljoen aan regskostes spandeer. Ons beplan om te eis, en kan volgens my advokaat mijoene eis op die bedrae wat ons moes spandeer gedurende die jare, maar niks sal vergoed vir die pyn en leiding wat ek en my familie moes verduur nie."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'