MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het uit radeloosheid 'n sekuriteitswag aangestel om die strandtoegang by Diasstrand te patrolleer.
Dit volg op diefstal en vandalisme aan dele van die rolstoelvriendelike struktuur wat na die strand lei.
Munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê hulle veroordeel die voorvalle ten sterkste. Sedert 'n sekuriteitswag onlangs ontplooi is, is geen verdere voorvalle van vandalisme aangemeld nie.
Die toegang vorm deel van 'n R835 000-projek wat bestem is om die strand meer toeganklik vir inwoners met fisieke uitdagings te maak.
"Dit was veral bemoedigend om te sien tot watter mate die nuwe fasiliteit deur mense met gestremdhede gebruik is. Dit is 'n duidelike aanduiding van die noodsaak daarvoor," sê Le Roux.
Die uitgawe aan 'n sekuriteitswag is egter nie volhoubaar nie, aangesien daar nie vir die ekstra uitgawe begroot is nie.
"Die munisipaliteit doen daarom 'n beroep op die plaaslike veiligheid- en sekuriteitstrukture om behulpsaam te wees met die beveiliging van die toegang sodat die broodnodige infrastruktuur nie verniel of vernietig word nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'