Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - 'n Gemeentelid van die NG Kerk Groot-Brakrivier wat op Vrydag, 2 Maart met 'n mes in die kerk aangehou is, moes die misdadiger eers verseker dat sy nie sal skree nie voordat hy met haar selfoon vort is.
Die vrou, in haar 30's, het die betrokke middag blomme voor in die kerk rangskik toe die verdagte by een van die sydeure van die kerk ingegaan het. Die vrou wil nie haar identiteit bekend maak nie omdat die verdagte nog op vrye voet is.
"Die man het by die kerk ingestap en dadelik die situasie opgesom. Hy het gesien ek is alleen en vir my geglimlag waarna hy 'n mes wat hy in sy hemp se mou bêre voor my uitgehou het. Hy het geweet wat hy doen."
Die vrou sê sy het haar selfoon in die hand gehad omdat sy foto's van die blommerangskikking vir haar ma wou neem.
"Hy het daarop aangedring dat ek my foon vir hom moet gee en na my toe aangestap.
"Hy wou ook geld hê en het vir my gesê dat hy dwelms wil koop.
"Hy het sy arms om my gevou en my in 'n greep gehou terwyl hy die mes teen my keel gedruk het. Daarna het hy vir my 'n soen op my wang gegee."
Die vrou sê sy weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar sy het vir die verdagte gevra of hy vir Jesus ken.
"Hy het gesê ja, maar het gesê hy het 'n demoon in hom en ek het hom verseker dat Jesus hom steeds lief het."
Volgens die gemeentelid het die verdagte haar om verskoning gevra dat hy haar selfoon gevat het.
Hierna het hy haar hande met 'n trui vasgebind.
Die woordvoerder van die polisie op Groot-Brakrivier, sers Chantel Marais het bevestig dat 'n saak van roof ondersoek word.
"Ons het 'n vermoede wie die verdagte is en hoop om hom spoedig in hegtenis te neem."
Lees 'n vorige artikel: Vrou met mes in Kerk aangehou
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'