MOSSELBAAI NUUS - Volgens ds Gielie Joubert van die Kom Tuis-kerk in Heiderand was die eerste week van die Marathon vir Liefdadigheid vol verrassings - aangenaam en minder aangenaam.
"Lourens Nel was van verlede Maandag tot Vrydag in die hospitaal. Lukas Smith het Sondag begin verkouerig voel wat veroorsaak het dat hy ook 'n paar dae moes uitsit. Christa Smith sukkel so bietjie met 'n seer knie en blase, maar niks ernstig nie. Gelukkig is Elma Nel 'n yster en volstoom aan die gang," vertel Joubert.
Selfs die weer het 'n stok in die wiel probeer steek toe daar op die Woensdag en Donderdagoggend nie enige kilos ingesit kon word nie.
Die viertal, wat nou nie meer vandag se kinders is nie, het Sondagaand, 3 April weggespring om 1 000km in 29 dae af te lê om geld in te samel om behoeftige gesinne binne en buite die gemeente te kan bystaan.
"Ten spyte van al hierdie dinge is ons steeds aangenaam verras en baie dankbaar om te kan rapporteer dat ons byna 100km oor ons mikpunt vir die week is," vertel Joubert. "Ons is dankbaar dat daar geen beserings of ongelukke was nie en ons wil graag almal bedank vir julle ondersteuning, donasies, borge en gebede."
Joubert het die gemeenskap bedank vir die witolifant-tafel wat op 2 Mei om 09:00 by Shell Voorbaai by die einde van die marathon gehou gaan word.
"Ons is dankbaar om te meld dat ons amper halfpad na ons mikpunt van R100 000 is," sê hy.
Enigeen wat graag nog wil borg per kilometer of net 'n donasie wil gee is baie welkom. Vir meer inligting kan ds Joubert by (072 137 3535) gekontak word.
Vorige artikel: Liefdadigheidsprojek goed op dreef
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'