MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het tydens die feesseisoen 'n toestroming van besoekers beleef met mense uit die binneland wat vir die eerste keer in drie jaar weer behoorlik die see en son kon geniet. Ongelukkig het die see, riviere en damme verskeie lewens geëis wat groot verdriet vir families en gemeenskappe tot gevolg gehad het.
Vyf mense het tydens die vakansie-seisoen in die groter Mosselbaai in die see en een in 'n dam verdrink.
- Die 17-jarige Brendon Slinger van Hoogekraal, verdrink op 22 Desember in 'n dam naby Outeniqua-stasie, Glentana. Hy en twee maats het na bewering op 'n selfgemaakte vlot op die dam geseil, toe sy hand gegly, hy sy balans verloor het en onder die water verdwyn het. Polisieduikers van die Wes-Kaap het sy liggaam gevind, terwyl sy familie en lede van die gemeenskap op die wal gestaan en wag het.
- Die see eis op Donderdag, 22 Desember nog 'n lewe met die verdrinking van Marelise Krige (47) in die see by Vleesbaai, terwyl sy ander drenkelinge gehelp het wat deur 'n sleurstroom meegesleur is.
Omstanders het 'n kring met hand-doeke vir privaatheid rondom Marelise se liggaam en die reddingsdienste gemaak en hardop gebid terwyl kardiopulmonêre resussitasie op haar toegepas is. Sy is egter op die toneel dood verklaar.
Marelise word oorleef deur haar ouers, Martin en Wilna van der Walt van Vleesbaai en haar man Willem en drie kinders. Die Krige-gesin is van Durbanville.
'n Gedenkdiens word vandag, Vrydag 13 Januarie, om 10:00 by die Durbanville-Bergsig Kerk, gehou.
n Christian (Mannetjie) Booysen (41) se liggaam word op Vrydagoggend, 30 Desember op die rotse by De Bakke-strand deur veiligheidswagte gevind met 'n wond aan sy kop. Die Da Gamaskop-polisie vra die publiek se hulp om die oorledene se identiteit te bepaal aan die hand van 'n tatoeëermerk op sy bo-arm.
Hy word op Maandag, 2 Januarie deur sy familie uitgeken.
Volgens adjudant-offisier Adéle Binneman, word geen gemene spel vermoed nie en is die oorsaak van dood, verdrinking. Christian laat 'n dogter Candice Roman en 'n seun Aldeno Fillies agter.
- Die agtjarige Amira Kloupas verdrink op Sondag, 1 Januarie in die rivier by die Groot-Brakriviermond tydens 'n familie-uitstappie. Amira is die dogter van Ruduhan Scheepers en Tasneem Kloupas van Wolwedans, Groot-Brakrivier.
Sy laat ook 'n sussie, Sameera (2) agter en haar Ouma, Maria Scheepers, wat haar help grootmaak het.
Amira is Saterdag,7 Januarie vanuit die Groot-Brakrivier Primêre Skool tydens 'n emosio-nele roudiens begrawe.
n Die see eis op Donderdag, 5 Januarie nog 'n lewe toe Jaco du Plooy (51) by Fransmanshoek, naby Vleesbaai deur 'n brander van die rotse afgeslaan word, terwyl hy, sy seun Marco (19) en toekomstige skoonseun Hyrone Brown (21), gehengel het. Die NSRI het Du Plooy se liggaam uit die see gehaal, maar hy was reeds dood.
Du Plooy, eienaar van 'n konstruksiemaatskappy in George, laat sy vrou, Theresa, dogter Simoné en seuns, Marco, Chris en Janco, agter. Jaco en Theresa sou op 17 Januarie hul 25ste huweliksherdenking vier.
Daar was ook talle amper-verdrinkings gewees waar lewensredders en die NSRI mense uit die see gered het.
Swemmers het veral by Glentana, Suiderkruis, Danabaai en Vleesbaai in die moeilikheid beland, weens sleurstrome wat toenemend aan die kus ondervind word.
Die liggaam van Christian Botha (41) is op Vrydag, 30 Desember hier op die rotse by De Bakke strand gevind. Hy het vermoedelik gegly, sy kop teen die rotse gekap en verdrink.
Amira Kloupas (8) wat op Nuwejaarsdag in die rivier naby die Groot-Brakriviermonding verdrink het, is Saterdag, 7 Januarie in Wolwedans begrawe.
Salomé Slinger (39) word vertroos deur sersant Lauriane Botha van die Groot-Brakrivier-polisie, nadat haar seun, Brendon (17), in 'n dam naby die Outeniqua-stasie verdrink het. Brendon sou op Kersdag 18 jaar oud geword het.
Jaco du Plooy en sy vrou Theresa. Hy het op Donderdag, 5 Januarie by Fransmanshoek naby Vleesbaai verdrink, toe hy tydens 'n hengeluitstappie in die see beland het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'