Update
MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Mosselbaai het 'n tweede verdagte in verband met die verkragting van 'n 18-jarige skoolmeisie in hegtenis geneem.
Dit volg op 'n ondersoek deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe nadat 'n video onder leerders versprei is waarop die verkragting van 'n graad 11-leerder tydens 'n huispartytjie afgeneem is.
Die voorval het op Saterdag, 16 November by 'n huis op Mosselbaai om ongeveer 22:00 plaasgevind.
Die slagoffer het na bewering by die partytjie alkohol gedrink en toe aan die slaap geraak. Volgens polisiewoordvoerder, sers Kapp het sy wakker geword en gesien dat sy kaal is.
'n Vriendin het haar ingelig dat daar 'n video onder medeleerders versprei is waarin die drie seuns beurte maak om met haar seks te hê.
Die drie verdagtes se gesigte is glo ook duidelik sigbaar in die video. Intussen het 'n 17-jarige seun reeds in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting. Hy is in sy ouers se sorg vrygelaat en moet weer op 12 Januarie in die hof verskyn.
Die tweede verdagte het op Woensdag, 27 November in die Mosselbaai-landdroshof verskyn en is ook in sy ouers se sorg vrygelaat.
Die derde verdagte is steeds op vrye voet. Volgens die polisie was dié tiener nie by die huis toe hulle daar was om hom in hegtenis te neem nie, maar 'n inhegtenisname sal spoedig volg.
Die leerders is almal verbonde aan dieselfde skool en is nie weens die beweerde misdryf geskors nie, omdat hulle eksamen geskryf het.
Lees vorige artikels:
- Video van verkragting skok
- Seun in hof na verkragting op video vasgelê is
- Opvolg: Seuns (18) verkrag glo medeleerder
- Hoërskoolseuns verkrag glo meisie (18) op video
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'