Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die amptelike opening van die nuut-uitgebreide kindersorgsentrum in Sonskynvallei het vroeër vandeesweek plaasgevind.
Die gedagte aan 'n grondslagfaseskool het in die laat negentigerjare ontstaan toe die NG Kerk Hartenbos by die gemeenskap betrokke geraak het. Elize Kloppers, 'n gemeentelid, het begin om die kinders in die omgewing van die destydse Sea Shells-diensstasie te bedien.
Die fasiliteite het te klein geword en die skool moes verskuif. Die behoefte aan 'n graad R-klas het ontstaan en Laerskool Hartenbos was behulpsaam in hierdie verband. Met behulp van die Garden Route Casino-gemeenskapstrust is 'n skooltjie met drie klaskamers gebou wat tot onlangs voldoende was.
Die skoolperseel het egter nie aan die groeiende behoefte voldoen nie. Danksy die samewerking tussen die Mosselbaai-munisipaliteit, NG Kerk Hartenbos, Hartenbos-bejaardesorgdiens en ruim bydrae van Fred en Hannetjie Kinnear van Mpumalanga, is die nuwe, verbeterde fasiliteit wat 120 kleuters kan akkommodeer, opgerig.
'n Gedeelte van die pragtige verbeterde fasiliteite by die skooltjie. Foto: Tersia Marais
Opening
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, verskeie raadslede en die Wes-Kaapse LUR vir finansies, dr Ivan Meyer, het as gaste die amptelike opening bygewoon. Raadsheer Levendal het aan die Kinnears gesê dat waneer een deur toegaan, soos toe die skool in Brandwag gesluit is en die kinders na Hartenbos moes gaan, 'n ander deur oopgegaan het met die bou van die Sonskynvallei-speelskool. Hy het die hoop uitgespreek dat die skool verder uitgebrei sal kan word om leerders tot graad 3 te kan akkommodeer.
Dr Meyer het die munisipale raad bedank dat hulle nie op die komitees "sit" nie, maar wel "dien". Die wyse waarop samewerking tussen die onderskeie partye plaasgevind het, het tot 'n suksesvolle bouprojek gelei. Nou kan gefokus word op 'n program om die gemeenskap te bemagtig en op te hef.
Die graad R-leerders van Sonskynvallei-speelskool het aktief en vrolik hul items gelewer tydens die opening. Foto: Tersia Marais
Fred Kinnear het gesê dat dit vanuit 'n beleggingsoogpunt die beste belegging kan wees aangesien in die toekoms van Suid-Afrika geïnvesteer is. Dit is die derde skool waarby die Kinnears betrokke is. Kinnear sê hoewel hy en sy vrou, Hannetjie self nie kleinkinders het nie, hulle nou danksy hul belegging die trotse grootouers van ongeveer 400 kindertjies is.
Kyk 'n video hieronder:
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die Wes-Kaapse LUR vir finansies, dr Ivan Meyer, saam met mev Hannetjie en mnr Fred Kinnear (donateurs). Foto: Tersia Marais
Lees 'n vorige artikel: Speelskool open in Sonskynvallei
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'