MOSSELBAAI NUUS - Met beurtkrag wat onafwendbaar deel van ons daaglikse lewe is en gereelde beroepe deur Eskom om krag te spaar kan die volgende wenke bydra om die druk op kraglewering te verminder.
Die wenke kan ook tot 'n laer kragrekening lei.
• Verminder die temperatuur van geisers tot ongeveer 55° C.
• Plaas deksels op kookpotte om hitte vinniger te laat opbou en maak seker dat die grootte van die pot by die grootte van die stoofplaat aanpas.
• Minder krag word verbruik om water in 'n ketel te kook as op 'n stoofplaat.
• Kook slegs die nodige hoeveelheid water in 'n ketel. Dit vermors energie om 'n vol ketel te laat kook as byvoorbeels slegs twee koppies koffie gemaak word.
• Maak vensters en deure toe wanneer lugreëraars of verwarmers gebruik word.
• Maak seker dat yskasdeure dig sluit en rubberseëls in 'n goeie toestand is.
• Week gedroogde kossoorte soos boontjies, stampmielies, ertjies en lensies oornag in water voordat dit gekook word. Dit verminder die kooktyd drasties.
• Om te stort gebruik minder krag en water as om te bad.
• Skakel ligte, rekenaars, televisies en ander toebehore af as dit nie gebruik word nie. Toebehore wat op bystand is gebruik ook krag en behoort by die muurprop afgeskakel te wees.
• Gebruik die voorwasprogram van wasmasjiene slegs as dit noodsaaklik is, byvoorbeeld vir wasgoed wat baie vuil is.
• Gebruik wasmasjiene en skottelgoedwassers met vol vragte eerder as gereelde wassiklusse met kleiner vragte.
• Hang wasgoed buite op eerder as om 'n tuimeldroër te gebruik.
• Gebruik energiebesparings gloeilampe. Hulle gebruik minder krag en het 'n langer gebruikslewe.
• Doen alle strykwerk op een slag eerder as om die strykyster kort-kort aan te skakel vir kleiner strykwerk.
• Hou rekord van kragverbruik en vergelyk dit met die van bure en vriende.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'