Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Hartenbosrivierforum is in hul noppies met die wyse waarop die die riviermonding behoorlik oopgespoel het ná die onlangse meganiese oopmaak.
Die herhalende meganiese oopmaak, maar bowenal die sameloop van verskeie faktore soos die afgelope naweek se uiters goeie neerslae en rowwe seetoestande, asook die besondere hoë watervlak in die rivier voordat met die oopmaak begin is, word onder meer genoem as faktore wat daartoe gelei het dat die rivier nou breed en diep, selfs tot op die oorspronklike klipbank oopgespoel het.
'n Interessante verskynsel is egter die duin digby die parkeerarea wat tot sowat twee meter diepte oopgespoel het en wat ou en verweerde skanskorwe blootgelê het. Boonop is die oorblyfsels van wat 'n wandelpad of sleephelling kon gewees het, ook sigbaar.
Gevaarlike toestande
Die duin, wat waarskynlik ontstaan het weens die hawemuur wat by die Mosselbaaise hawe uitgebou is, asook duinstabilisering met onder meer rooikranstakke wat etlike jare gelede daar geplaas is, hou nou 'n gevaar vir strandgangers in.
'n Sperlint is wel in die omgewing aangebring, maar met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die area op Dinsdagmiddag, 11 September, het twee kinders en hul hond ondanks die sperlint baie naby aan die duinwal heerlik in die sand gespeel, salig onbewus van die gevaar sou hulle die sowat twee meter na benede val, of, erger nog, sou die duin onder hulle meegee en hulle onder die sand begrawe word.
Kenners meen daar moet werk gemaak word om die duin in geheel weg te werk. Hulle meen die kunsmatig-gevormde duin het 'n wesentlike invloed op die riviervloei en wyse waarop die riviermondig telkens toespoel. Meer nog, meen hulle dat die duin weggewerk moet word ter wille van die veiligheid van strandgebruikers.
'n Sperlint is wel aangebring waar 'n duin gevaarlike toestande skep.
Boonop versper die duin die uitsig vanaf die bankies wat al langs die wandelroete aangebring is.
Die toestand van die rivier het 'n bewese impak op toerisme. Dis egter nie so eenvoudig nie en die departement van omgewingsake se toestemming moet hiervoor verkry word. Daarom het die forum 'n dringende vergadering met alle rolspelers aangevra sodat indringend en daadwerklik opgetree kan word.
Intussen blyk dit dat voorgestel word dat die duin skuins afgewerk moet word, hoewel kenners meen dit net tot latere probleme met die oophou van die riviermonding kan aanleiding gee.
Die wyse waarop die rivier die duin weggekalwer het, is duidelik sigbaar. Dit is hierdie duin wat volgens kenners tans lewensgevaarlike omstandighede vir strandgangers, veral kinders meebring.
Herstel van rivierlewe
Die Hartenbosrivierforum beywer hulle ook vir die herstel van die rivierlewe, onder meer lewe wat tipies as aas vir visvang uitgehaal word. 'n Beroep word op hengelaars gedoen om tot verdere kennisgewing nie vir die volgende paar maande krewels en ander aas in die Hartenbosrivier te oes nie.
Foto's: Hartenbosrivierforum
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'