MOSSELBAAI NUUS - Die verkragting van 'n 20-jarige vrou by 'n Covid-19-kwarantynfasiliteit op Mosselbaai die afgelope naweek het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur.
Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat die slagoffer in isolasie by die PetroSA-fasiliteit was toe sy na bewering deur 'n skoonmaker wat op die terrein gewerk het, in 'n kamer oorweldig en verkrag is.
Die 37-jarige verdagte is kort na die voorval in hegtenis geneem.
Intussen het die direkteur van Procon Facilities Management, Bernardo Maralack bevestig dat hulle 'n werknemer in verband met die voorval in hegtenis geneem het.
Maralack het aan die media gesê dat hulle vir seker dissiplinêre aksie teenoor die verdagte sal instel en dat hy na alle waarskynlikheid afgedank sal word indien hy skuldig is.
Die verdagte het die afgelope week in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting en bly in aanhouding.
Die hof het gelas dat hy weer op Maandag, 21 September in die hof moet verskyn om 'n formele borgaansoek te bring.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se Eric Ntabazalila het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle beslis borgtog sal opponeer.
Hoewel die identiteit van die verdagte aan die media bekend gemaak is, mag dit volgens wetgewing nie genoem word voor hy nie op die aanklag teen hom gepleit het nie.
Wes-Kaapse premier, Alan Winde het teen druktyd gesê dat hulle die slagoffer ondersteun en vir haar maatskaplike hulp aanbied. Winde het bevestig dat die slagoffer in die sorg van haar familie is.
Volgens Winde is hierdie die eerste voorval in sy soort wat by 'n kwarantynfasiliteit in die provinsie plaasgevind het en aan hulle gerapporteer is.
Hy sê daar is sedert die opening van die kwarantynfasiliteite streng sekuriteit op die terrein. Die terrein het na wat verneem word drie sekuriteitswagte per 24 uur-skof.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'