Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ben Badenhorst (68) het weer die mense in Mosselbaai en op Facebook aan die praat nadat hy op Kersdag saam met sy hanslam skaap, Tjoppie, by Diasstrand gaan swem het en iemand ‘n video daarvan op Facebook geplaas het.
Ben het in die Diasstrand-gebied groot geword met die see wat nog altyd ‘n groot deel van sy lewe was.
Hy is baie lief vir diere en het sowat drie jaar gelede ingewillig om ‘n hanslam groot te maak.
Só het Tjoppie deel van die Badenhorst-huishouding geword. Hy is ‘n kruising tussen ‘n Meatmaster- en Dorper skaap. Sedertdien het die lam egter tot ‘n ordentlike skaapram gegroei met ‘n bypassende temperament.
Tjoppie is groot maats met een van die honde op die erf en eet ook graag hondepille.
Tjoppie raak baie opgewonde as Ben die tou uithaal om aan sy halsband te bind vir hul uitstappie strand toe. Volgens Ben is hy die ‘voorbok’ as daar in die branders baljaar word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'