Update
MOSSELBAAI NUUS - Gewapende rowers het Donderdag, 2 Maart, net voor toemaaktyd 22:00, die Takoda Spur by die Hartenbos Seefront binne gestorm en almal in die restaurant beveel om op die grond te gaan lê.
Teen die toemaaktyd was ongeveer 12 klante en personeel nog in die restaurant. Almal het in die harwar en met skok toegegee aan die versoek.
Gerlinda Niehaus, wat saam met ses van haar vriende daar was, het aan Mossel Bay Advertiser gesê die rowers het in Engels geskreeu; "Werk saam of julle is almal vrek."
"Hulle het op my vriendin se been getrap om by die bestuurder of die eienaar, ek is nie seker nie, uit te kom. Hulle trap toe sy neus stukkend en skop hom en dreig om hom te skiet as hy nie die kasregister en kluis oopmaak nie," vertel Niehaus.
Niehaus was saam met Angelique Harmse, Kimberley Blignaut, Wayne Harper, Daniel Mostert, Carla Mostert en haar, Niehaus se vriend, van Rotterdam, Yslain Verwaal vir 'n samesyn voor sy vandag, Vrydag 10 Maart, na Rotterdam vertrek. Niehaus se dokumente behalwe haar paspoort is geroof en sy het die afgelope week probeer om tydelike dokumente te kry.
Die bestuurder van die Spur, Tiaan van Eeden, het na hy aangerand is, toegegee aan die vereistes van die rowers. Kontant van die kasregister en persoonlike besittings van klante is geroof. "Ons is net dankbaar dat niemand ernstig beseer is nie en Tiaan se neus is darem nie gebreek nie," het Marius Schoeman, eienaar van die Takoda Spur vertel.
Schoeman het ook aan die Advertiser gesê dat sy personeel berading ontvang. Volgens hom was twee van die rowers reeds sittend binne in die restaurant as klante, toe drie ander die restaurant binnestorm.
Van die klante was net betyds uit voor die rowers toegeslaan het. Volgens Schoeman het hulle die kasregister leeggemaak maar kon nie veel by die kluis kry nie en toe het hulle die klante se persoonlike besittings, beursies en selfone afgevat.
Geen noodligte
Op sosiale media het verskeie klagtes gekom dat daar geen noodligte tydens beurtkrag op die Seefront-perseel en parkeerarea is nie, en selfs by die toiletgeriewe is daar nie ligte nie of die gloeilampe is stukkend.
Denise Lloyd, sentrumbestuurder het aan die Advertiser gesê die eienaars, Hartenbos Seefront PTY (Ltd), het reeds 6 Februarie die Walvissaal ontruim sodat die asbesdak vervang kan word met 'n sterker dakstruktuur om sonpanele te kan dra. Hulle wag egter steeds vir die kontrakteurs van die Kaap wat die asbes moet verwyder.
Volgens Lloyd is die battery-liggies in die toilette die week vervang met 'n batterystelsel en word die strandtoilet nie na-ure deur die publiek gebruik nie, maar wel die publieke toilette naby die gimnasium.
Philip Mattheus van die Hartenbos Gemeenskap Polisie Forum (GPF), was oomblikke na die roof gerapporteer is, op die toneel.
Vandaar is buurtwaglede en verskeie ander rolspelers ontplooi maar die rowers, wat in 'n Toyota Corolla gevlug het, het met Port Natallaan, Hannes Pienaarstraat en Garretstraat tot by Louis Fourieweg gevlug.
Die Da Gamaskop-polisie het bevestig dat daar vyf rowers betrokke was waarna die Corolla op die N2 naby KwaNonqaba gevind is.
Geen arrestasies is nog gemaak nie. Die polisie vra enigiemand met meer inligting om ao Marizaan du Plessis (044 606 2235) te kontak.
Die sewe vriende in 'n opgewonde luim in die Spur voor die gewapende rowers toegeslaan het. Van links: Angelique Harmse, Kimberley Blignaut, Wayne Harper, Daniel Mostert, Yslain Verwaal, Gerlinda Niehaus en Carla Mostert.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'