MOSSELBAAI NUUS - Die 12-jarige seun wat saam met vyf familielede op Sondagaand, 2 Oktober in 'n motorongeluk op die N2 naby Glentana betrokke was en die enigste oorlewende is, se toestand is stabiel.
Die kind is na die ongeluk in 'n hospitaal in George opgeneem en kort daarna na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Die seun en sy familie, almal van Malmesbury was onderweg na hul vakansiebestemming in Knysna. Die oorledenes is Mandy Steward (45), haar man Jack (48), hul sesjarige dogtertjie en Jack se ouers wat beide 78-jaar oud was.
Die Stewards se Ford Eco-sport het met die bestuurder van 'n Ford Ranger om ongeveer 22:00 gebots. Die voertuie was in verskillende rigtings op pad.
Volgens die polisie se kommunikasiebeampte, sers Chris Spies word die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek. Die bestuurder van die Ford Ranger is ook met beserings in 'n hospitaal in George opgeneem. Sy identiteit is nie teen die ter perse gaan aan die Mossel Bay Advertiser bekend nie.
'n Roudiens is op Donderdag, 6 Oktober in Wesbank gehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'