MOSSELBAAI NUUS - Die Midbrak-belastingbetalersvereniging (bbv) sê hulle is sedert 2008 aktief betrokke by versoeke om die R102 op te gradeer.
Dit volg na 'n artikel in die Mossel Bay Advertiser op Vrydag, 22 November oor inwoners en besigheidseienaars se ongelukkigheid aangaande die tydperk wat dit vat om dié pad op te gradeer.
'n Boer en inwoner van die omgewing, John Robertson het 'n versoek aan die belastingbetalersvereniging gerig om hul opinie oor die sloer van die pad uit te spreek.
Volgens voorsitter, George Nezar het die belastingbetalers-vereniging op Dinsdag, 20 Desember 2016, tesame met die Wes-Kaapse minister van vervoer, Donald Grant 'n openbare vergadering in die Reebok-gemeenskapsaal gehou. "Hierdie vergadering oor die R102 was weer eens op versoek van ons vereniging en is ook bygewoon deur die uitvoerende burgermeesterskomitee en verskeie amptenary van die munisipaliteit asook lede van die publiek.
Nezar sê Grant het op hulle versoek op die R102 gery om die haglike toestande self te ervaar. "Lede van Riverside was ook op die vergadering teenwoordig en hewig ontsteld dat die deel verby Riverside blykbaar uitgesluit kon wees by die opgradering. Nezar sê Grant het onderneem om op hul begrotingsvergadering die dringendheid te onderstreep vir die opgradering.
Grant sê die vereniging het dus 'n belangrike rol gespeel om die opgradering te bespoedig. "Vanaf Februarie, 2018 het die kontrakteurs Power Construction op die terrein begin met die padwerke. "Hulle teikendatum vir voltooiing was gestel op 31 Maart, 2020 wat sedertdien verskuif is na 30 April, 2020. Die raadgewende ingenieurs, Kantey en Templer het, by monde van Paul Laubscher, ook 'n openbare vergadering op ons aandrang toegespreek om die vordering en probleme uit te lig veral oor werk wat nie gedoen kan word tydens die koue en nat wintermaande nie."
Nezar sê die persepsie dat die vereniging nie aktief by die proses betrokke is nie, is onwaar. "Die vereniging is betrokke om die publiek in te lig oor wat gebeur en ook om die publiek te versoek om geduldig te wees totdat die opgradering voltooi is.
"Hy sê die ongerief en verlies aan inkomste van besighede op Riverside en Groot-Brakrivier is 'n onvermydelike gevolg van die padverbetering. "Ons is nie onsimpatiek daaroor nie. Verder moet ons aanvaar dat die kontrakteurs gewoonlik onvoorsiene probleme sal ervaar wat buite hul beheer is wat vertragings sal veroorsaak. Die keuse van 'n verbeterde, opgegradeerde R102 sal hopelik na voltooiing daarvan, tot groter voordeel vir ons hele gemeenskap wees. Toerisme behoort te blom, wat meer voete vir ons area sal beteken."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'